Die VF Plus het met skok en afgryse verneem dat nog ʼn boer in Suid-Afrika vanoggend vermoor is. Mnr. Dirk Steenkamp is vanoggend ongeveer 8vm koelbloedig op sy plaas naby Vredefort in die Vrystaat doodgeskiet.

Hierdie is die soveelste aanslag op die Suid-Afrikaanse boeregemeenskap en is die direkte gevolg van die ANC-regering en die EFF se roekelose en onverantwoordelike uitsprake oor grondonteiening en blatante en populistiese leuens oor wittes wat die grond gesteel het. Die regering het Steenkamp se bloed op hulle hande.

Die VF Plus het die vorige minister van polisie, mnr. Fikile Mbalula versoek om plaasaanvalle en –moorde tot prioriteitsmisdaad te verklaar en sal ook nou die nuwe minister, mnr. Beke Cele versoek om dieselfde te doen.

Hierdie is ʼn misdaad wat reuse maatskaplike en ekonomiese gevolge vir die ganse Suid-Afrikaanse gemeenskap inhou. Dit bedreig lewens, voedselsekerheid en die ekonomiese welstand van honderde gesinne van geaffekteerde boere en plaaswerkers.

Die regering en opswepers soos die EFF se Julius Malema maak graag populistiese stellings oor onteiening en die sogenaamde diefstal van grond vir hul eie politieke gewin, altyd met die geringe gerusstelling dat voedselsekerheid en die ekonomie nie bedreig sal word nie. Hulle moet wakker word en besef dat voedselsekerheid en die ekonomie lankal deur ʼn veel ernstiger kanker bedreig word as hulle persepsie van wie die grond besit en wat welvaart skep en dit is die sinnelose en ongekende geweld op ons land se landbouers wat deur hulle uitlatings en onvermoë om die boere en hul werkers te beskerm veroorsaak en vererger word.

Plaasaanvalle en –moorde moet tot prioriteitsmisdaad verklaar word en die regering, die leiers van die land wat vir die welstand van elke inwoner van Suid-Afrika verantwoordelik is, moet ophou om rassehaat en verdeling aan te blaas vir eie gewin.

Die VF Plus doen ʼn beroep op boere om hulself en hulle gesinne weerbaar te maak en te alle tye paraat te wees vir moontlike gevare. As die regering ons nie kan of wil beskerm nie, moet ons dit self doen.

Ons wil ons diepste medelye met die Steenkamp-gesin, familie en vriende uitspreek – ons gebede van krag en vertroosting is met hulle.