Die VF Plus is bekommerd oor die welstand van die persone wat deur Noordwes se departement van gesondheid in gedwonge isolasie geplaas is by die Klerksdorp / Tshepong-hospitaalkompleks in Klerksdorp.

Verskeie klagtes is ontvang oor die swak en ongekontroleerde toestand waarin die mense in isolasie gehou word. Dit sluit in vuil toilet- en badgeriewe en ‘n algemeen onhigiëniese omgewing. Die saal waarin die mense geplaas is, het ook reeds sedert Woensdag 15 April 2020 geen lopende water nie en die mense moet van ander sale se toilet- en stortgeriewe gebruik maak.

Nadat die VF Plus se wetgewerslid in Noordwes die LUR van gesondheid in die provinsie, Madoda Sambatha, verwittig het van die klagte, het hy gereageer en bevestig dat kontrakteurs aangestel is om lopende water te herstel.

Verdere klagtes sluit in dat daar geen sanitasiemiddels beskikbaar is nie. Daar is skynbaar ook geen kontrole oor die beweging van mense in en om die isolasie-eenheid nie.

Hospitaalpersoneel gebruik nie maskers of handskoene nie, en handhaaf ook nie die voorgeskrewe sosiale afstand nie. Hierdie maatreëls is skynbaar net van toepassing op die persone in gedwonge isolasie.

Nie een van die geïsoleerde persone is tot nou toe positief getoets vir die Covid-19-virus nie. Sommige wag steeds op die uitslae van hul toetse terwyl ander nog nie getoets is nie.

Ten spyte van versoeke om in self-isolasie geplaas te word in behoorlik higiëniese toestande, is hierdie versoeke deur die hospitaal geweier.

Hierdie stand van sake is totaal onaanvaarbaar. Alhoewel die aantal Covid-19-gevalle in die provinsie nog relatief min is, behoort Noordwes se departement van gesondheid te verseker dat die provinsie op ‘n professionele gereedheidsgrondslag geplaas is.

Die toestande by Klerksdorp / Tshepong-hospitaalkompleks, wat amptelik as Noordwes se isolasiegerief aangewys is, voldoen duidelik nie aan die vereiste standaarde en veiligheidsmaatreëls nie.

Die VF Plus monitor die situasie.