“Die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Thandi Modise, se verwaarlosing van diere op haar plaas Modderfontein, naby Potchefstroom, is skokkend, getuig van argeloosheid, swak bestuur en is ‘n swak voorbeeld vir veral swart opkomende boere. Sy moet vervolg word vir dieremishandeling,” sê dr. Pieter Groenewald (LP), parlementêre woordvoerder van landbou vir die Vryheidsfront Plus.

“Modise se verskoning dat haar plaasvoorman gedros het is onaanvaarbaar. Dit beteken sy het vir minstens ‘n week na twee weke nie met die voorman gekommunikeer nie en getuig van swak bestuur aan haar kant. Daar kan met reg gevra word hoekom die voorman gedros het, is dit blote laksheid en onverantwoordelikheid, of het sy nie die voorman vergoed nie? Modise moet die redes verskaf.

Ek het verskeie kere in die parlement gesê die blote besit van ‘n plaas maak jou nie ryk nie. Die besit van ‘n plaas vereis verantwoordelikheid, harde werk, toegewydheid en kundige bestuur en minister Nkwinti en die regering moet van hierdie geval kennis neem, alvorens hulle voortgaan met hulle grondhervormingsplanne,” het Groenewald gesê.