Die VF Plus sal druk op die Suid-Afrikaanse regering plaas om die nuwe sperdatum rakende die Agoa-handelsooreenkoms met Amerika na te kom, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.

President Barack Obama het gister aangekondig Suid-Afrika het tot 15 Maart tyd om die struikelblokke uit die weg te ruim wat nog in die pad staan van Amerikaanse vleisinvoer na Suid-Afrika.

Indien dit nie nagekom word nie, sal die tariefvrye invoer van Suid-Afrikaanse landbouprodukte na Amerika opgeskort word.

Adv. Alberts sê die VF Plus het verwag Amerika se geduld sal opraak gesien in die lig van die voeteslepery van die ANC en Rob Davies, minister van handel en nywerheid, oor die aangeleentheid.

Hy sê dit wil voorkom of Davies die land se bande met sy tradisionele handelsvennote soos Amerika en die Europese Unie nie ernstig opneem nie.

“Ons ekonomiese welstand en oorlewing word al hoe meer afhanklik van muishondlande soos Kuba en Brics-lande soos Brasilië wat reeds rommelstatus bereik het, Rusland, Indië en China wat eweneens groot ekonomiese probleme van hul eie het.

China se markte koel tans vinnig af ten koste van die rand en dit sal daarom ekonomiese selfmoord wees om tradisionele en gevestigde handelsvennote te vervreem.

“Ek sal die minister met die eerste geleentheid in Februarie met die sitting van die betrokke parlementêre portefeuljekomitee vra om hierop te antwoord en om die versekering te gee dat Suid-Afrika by die Agoa-spertyd sal hou.

“Gegewe Suid-Afrika se bestaande probleme soos ʼn ekonomiese inkrimping en ʼn groeiende handelstekort weens verskeie faktore, asook meer onlangse terugslae soos Nenegate, is die land se ekonomie ʼn ontvouende fiasko.

“Die land kan in hierdie stadium bloot nie bekostig om bestaande handelsvennote te vervreem nie. Alhoewel die swak rand ʼn geweldige skok vir die ekonomiese stelsel is, kan dit steeds tot ons voordeel gebruik word vir uitvoere mits ons handelsvennote soos Amerika het. Daarom is Agoa vir ons belangrik,” sê adv. Alberts.