Die ANC-regering se onbevoegdheid en beleid soos regstellende aksie (RA) waarvan die vernietigende effek nou weer met die watervoorsiening in Gauteng gesien is, is die resep vir ʼn kern-fiasko wat Chernobyl na ʼn piekniek sal laat lyk, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor energie.

Adv. Alberts sê die VF Plus is ook bekommerd oor die omvang van die projek en dat dit Suid-Afrika finansieel kan knak en verewig aan ʼn buitelandse moondheid verkneg. In hierdie stadium blyk dit of Rusland die land sal wees. Dit blyk ook dat Suid-Afrika in sekere opsigte reeds aan China verkneg is.

“Onbevoegdheid en ʼn beleid waar persone weens politieke oorwegings en nie meriete nie in posisies geplaas word, is ʼn dodelike mengsel wanneer daar oor kernkrag gepraat word.

“Desnieteenstaande planne vir opleiding, bestaan daar geen waarborge dat die ANC-regering nie RA gaan toepas by sleutelposte in die bou en bestuur van kernaanlegte nie. Dit is nou algemeen bekend dat RA verantwoordelik is vir die gebrek aan dienslewering deur die staat.

“Die VF Plus sal die situasie monitor en nie skroom om internasionale hulp in te roep indien dit blyk dat roekeloos te werk gegaan word rondom die projek nie,” sê adv. Alberts.

In geskrewe vrae van adv. Alberts aan die minister van energie, me. Tina Joemat-Pettersson, oor hoe die program in lyn gebring gaan word met die land se Geïntegreerde Energieplan (GEP), hoe dit gefinansier gaan word en waar die geskikte mannekrag gevind gaan word, is as volg geantwoord:

Omvattende nuwe strategieë sal ontwikkel word om aan te sluit by die mikpunte van die regering se Nasionale Geïntegreerde Hulpbronneplan vir 2010 tot 2030. Daar sal met die eerste aanleg begin word in 2023/24, en teen 2030 met die laaste.

Beplanning vir finansiering is reeds ver gevorderd in samewerking met ‘sleuteldepartemente’ soos finansies en openbare ondernemings. Wat mannekrag aanbetref, is reeds ‘ver gevorder’ met ʼn nasionale vaardigheids-ontwikkelingsplan wat in samewerking met ander departemente opgestel word, lui die antwoord.

Oor die beskerming van strategiese kennis rondom kernkrag van twyfelagtige lande met wie Suid-Afrika vriendskapsbande het, lui die minister se antwoord dat plaaslike wette en internasionale vereistes hieroor nagekom sal word.