SAUK minag Afrikaanse TV-kykers

Die VF Plus gaan vrae in die parlement en in die portefeuljekomitee vra oor die swak programbeplanning by die SAUK wat tot die verwarrende rondskuif van programme en die opskorting van die Afrikaanse nuus gelei het. Dit sal ook vrae behels oor die advertensieskade wat die korporasie gelei het deur hierdie ondeurdagte skuiwe.

Afrikaanse televisie-nuuskykers het nog verstaan dat hulle tydelik moet skuif om plek vir die Wêreldbekersokker te maak. Maar daar is nooit gesê dat die Afrikaanse TV-nuus op SABC2 met ‘n Zoeloe-nuusbulletin vervang gaan word terwyl die Afrikaanse nuus heeltemal verdwyn nie. Aangesien meeste Afrikaanse TV-kykers nie betaaltelevisie het nie, word die probleem nie opgelos deur hulle na die betaalkanaal 404 te verwys nie.

Televisie-navorsing wys hoe kykers vaste kykpatrone ontwikkel en moeilik daarvan verander. Adverteerders verkies ook sekere tydgleuwe waarin hulle spesifieke gehore kan bereik. Die tydgleuf op SABC2 rondom spitstyd in die aand was ‘n groot geldmaker vir die korporasie. Teen hierdie agtergrond maak dit glad nie sin om die Afrikaanse sepie Sewende Laan om 18:30 op SABC2 te
hou, maar dit dan met Zoeloe-nuus om 19:00 op te volg terwyl die Afrikaanse nuus na SABC3 skuif nie. Met al die finansiële probleme by die SAUK kan sulke ondeurdagte besluite, wat beslis groot advertensie- en finansiële implikasies tot nadeel van die korporasie gaan hê, nie bekostig word nie.

Afrikaanse televisiekykers, waarvan die meerderheid nie wit is nie, vra met reg waarom hulle televisielisensies moet betaal en nie mag boikot nie terwyl dit duidelik is dat die SAUK se bestuur die Afrikaanse taal en programme as
minder belangrik ag.

UITGEREIK DEUR : Dr. Pieter Mulder
HOEDANIGHEID : VF Plus-leier
DATUM : 27 Junie 2014