• Post category:All / Politics

VF Plus-reaksie op premier van die Vrystaat se Openingsrede

Premier Ace Magashule se openingsrede was ‘n wenslysie van onsamehangende drome wat nie binne die huidige realiteite kan realiseer nie. Hy het sy bes probeer om die geweldige krisisse wat die Vrystaat tans op verskillende vlakke ervaar te verbloem deur verwysings na lukrake, geïsoleerde projekte en suksesse wat geensins konkrete oplossings bied nie. Die premier het herhaaldelik frases, soos “ons wens” en “ons sal baie graag wil hê” gebruik.

Die premier het geensins duidelike planne om hierdie drome te laat realiseer aangekondig nie. Hy het byvoorbeeld die droom uitgespreek dat elke skolier in die Vrystaat teen 2019 skootrekenaars en tablette sal ontvang. Dit te midde van die feit dat die Vrystaatse Departement van Onderwys tans ‘n begrotingstekort van meer as R1 miljard toon. Die VF Plus vra waar die fondse vir hierdie groot drome vandaan gaan kom.

Die Vrystaat het tans die hoogste werkloosheidsyfer in Suid-Afrika en ervaar die totale in duie stort van munisipale infrastrukture en dienslewering. Die premier het geen konkrete planne om hierdie krisisse daadwerklik aan te spreek, aangekondig nie.

Terwyl die Vrystaat tans ‘n geweldige krisis ten opsigte van die
gesondheidsorgsisteem ervaar, verwys die premier slegs terloops daarna en bespreek glad nie ‘n ingrypstrategie nie. Hy het eerder ‘n beroep op die mense van die provinsie gedoen om “geduldig” te wees.

Die agteruitgang en sosio-ekonomiese probleme van die Vrystaat is egter nie geduldig nie en die mense van die Vrystaat ly daagliks as gevolg van wanbestuur en verkeerde prioriteite. Die VF Plus beskou die premier se “oogklap”-benadering as onaanvaarbaar.

UITGEREIK DEUR : Wouter Wessels
HOEDANIGHEID : VF Plus-LPW: Vrystaatse Wetgewer
DATUM : 26 Junie 2014