ʼn Voorlopige ondersoek van die VF Plus het aan die lig gebring dat Prasa se hoofingenieur, dr. Daniel Mtimkulu, wel by die Ingenieursraad van Suid-Afrika (Ecsa) geregistreer is, maar slegs as ingenieurstegnoloog, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Om as tegnoloog te registreer, vereis ‘n diploma en ʼn B-Tech-kwalifikasie. Om as ingenieur te registreer, is ʼn toepaslike universiteits-B-graad in ingenieurswese die minimum vereiste.

Die inligting oor Mtimkulu se registrasie kan gevind word op Ecsa se webwerf (https://www.ecsa.co.za/) .

Daarvolgens is Daniel Qhubekani Mtimkulu, met registrasienommer 200970014, sedert 22 Januarie 2009 geregistreer as siviele professionele ingenieurstegnoloog.

Adv. Alberts sê die VF Plus bevraagteken die toepaslikheid van die kwalifikasie en ondervinding vir die pos waarin Mtimkulu is.

“Dit versterk die VF Plus se versoek aan die Staatsdienskommissie (SDK) om ondersoek te doen na die aangeleentheid. Die SDK het in 2005 amptelike riglyne uitgereik aan die staatsdiens en openbare ondernemings om kandidate vir posisies se kwalifikasies behoorlik te ondersoek.

“Die VF Plus sal dienooreenkomstig bedrogklagte by die polisie indien teen al die betrokke persone, insluitende Prasa se hoof, mnr. Lucky Montana, indien onreëlmatighede gevind word. Mnr. Montana is ingevolge die Openbare Finansiële Bestuurswet die hoof rekenkundige beampte wat moet sorg dat die hulpbronne van Prasa effektief en verantwoordelik aangewend word.

“Indien dr. Mtimkulu daarom onreëlmatig aangestel is en daar is ʼn verband tussen hom en die aankoop van treine met verkeerde spesifikasies, dan sou beide Mtimkulu en Montana oop wees vir moontlike vervolging.

“Die VF Plus sal ook voortgaan met sy ondersoek na die geldigheid van ʼn doktorsgraad wat mnr. Mtimkulu glo aan ʼn universiteit in Duitsland behaal het,” sê adv. Alberts.