Die waarnemende kommissaris van die Polisie, lt.genl. JK Phahlane, ontken dat die Polisie enigsins betrokke was by die voorval waar die leier van die EFF, Julius Malema, beweer hy deur twaalf gewapende polisielede geïntimideer was. Hy het (gister) reageer op ʼn vraag van dr. Pieter Groenewald (LP) van die Vryheidsfront Plus by die portefeuljekomitee van Polisie oor die betrokke beweerde intimidasie.

“Volgens lt.genl. Phahlane was dit lede van die Johannesburgse metropolisie (JMPD) en die rede hoekom Malema se voertuig afgetrek was, is omdat dit met ʼn bloulig gery het en agterdog gewek het by die JMPD.

“Sou Malema se voertuig ʼn bloulig gebruik het, is dit onwettig en moet hy vervolg word. Indien die metropolisielede verkeerd opgetree het, moet daar stappe teen hulle geneem word. Daar is gereeld klagtes teen lede van die metropolisie wat hulle mag misbruik en dit kan nie toegelaat word nie.

“Malema het egter al in die verlede (Augustus 2011) in die openbaar vertel dat sy lewe in gevaar was en dat die Polisie twee keer sy huis vir bomme moes deursoek. Na ʼn vraag van my in die parlement het die minister van Polisie egter ontken dat daar enige deursoeking was.

“Daar kan nie toegelaat word dat die Polisie as politieke propaganda misbruik word nie. Ek sal vra dat die saak behoorlik ondersoek word sodat die korrekte feite na vore kan kom,” sê dr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder van Polisie vir die Vryheidsfront Plus.