Die polisie het bevestig dat die klag wat die VF Plus verlede week by die by die Brooklyn-polisiekantoor in Pretoria ingedien het teen die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) se leier Julius Malema, die EFF se woordvoerder Mbuyiseni Ndlozi en sy ondervoorsitter in Tshwane, Moafrika Mabongwana, ondersoek gaan word en dat ʼn speurder-offisier reeds aangewys is om die ondersoek te behartig.

Adv. Anton Alberts, VF Plus-parlementslid en provinsiale leier in Gauteng, het die klag ingedien.

Volgens adv. Alberts het die betrokke EFF-lede mense opgesweep om “koloniale standbeelde wat aan apartheid herinner” te ontsier of af te breek, en dit het direk gelei tot die opsetlike beskadiging van Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein. Die EFF het later verantwoordelikheid vir die voorval aanvaar.

Die klagte wat ingedien is, is gegrond op die verbreking van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne.

“Dit is bemoedigend om te sien dat Suid-Afrikaners hulle nog op die beskerming van ʼn wetgewende raamwerk kan beroep en die polisie moet geprys word vir sy flink en vinnige optrede.

“Die wet moet hier streng toegepas word om misdadige gedrag soos wat die EFF uitgestal het, ferm vas te vat. Die EFF moet aanvaar dat hy binne ʼn grondwetlike demokrasie funksioneer en nie bo die wet verhewe is nie,” sê adv. Alberts.