• Post category:All / Government

Uit skrywes in die VF Plus se besit blyk dit dat ʼn ooreenkoms moontlik bereik is in die uitgerekte poskantoorstaking en werkers word in ʼn interne memorandum aangesê om ‘onmiddellik’ terug te keer werk toe om die poskantoor weer ‘op te bou’.

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor kommunikasie, sê ʼn forum van leiers het ooreengekom op ʼn verhoging van 6,5% en dat dit terugwerkend is tot 1 April 2014. Alle nie-permanente werkers sal ook geleidelik in vaste poste ingefaseer word in ʼn proses wat ‘nie langer nie’ as twee jaar sal duur.

Die dokument is op 14 November onderteken deur mnre. Andrew Sithole van SAPAWU, Alfred Msinto van DEPACU en M. Mathonsi waarnemende groepsbestuurshoof van die SA Poskantoor (SAPO).

Volgens adv. Alberts kan die proses steeds gekelder word deur die Communication Workers Union (CWU) wat 39% van die poskantoor se werkers verteenwoordig en wat aandring op ʼn verhoging van 7,5% en ʼn terugdateringsperiode wat strek tot Januarie vanjaar.

Al die rolspelers wat die jongste skikking bereik het, het hul vertroue uitgespreek dat die CWU wel deel sal raak van die ooreenkoms.

Luidens ʼn onlangse interne memorandum in die VF Plus se besit, word gesê dat dienslewering reeds verbeter het en word die beroep op werkers gedoen om terug te keer werk toe om die poskantoor ‘weer op te bou’.

Dit blyk ook uit die skrywe dat die poskantoor nader aan die afgrond was as wat die staat wou erken aangesien daar selfs verwys word na die ‘hergeboorte’ van dié staats-nutsmaatskappy.

Dit word egter duidelik gestel dat die poskantoor en die werkers se toekoms steeds in die weegskaal is en dat die volle toewyding van elke werker nodig is om weer winsgewend te raak.

“Dit is in die belang van Suid-Afrika dat hierdie staking nou tot ʼn einde kom. Dit het reeds groot skade aangerig en het ʼn verlammende effek met reuse verliese op baie maatskappy gehad. Die minister (van telekommunikasie en die posdiens, Siyabonga Cwele) sal sterk moet optree om die CWU deel van die ooreenkoms te maak,” sê adv. Alberts.