Die VF Plus verwelkom die besluit van regter Dhaya Pillay om ʼn lasbrief uit te reik vir die inhegtenisneming van oud-president Jacob Zuma wat weens beweerde mediese redes vandag nie opgedaag het vir sy korrupsie-hofsaak in die hooggeregshof in Pietermaritzburg nie.

Die besluit van regter Pillay om die lasbrief uit te reik ooreenkomstig regsvoorskrifte, is bemoedigend aangesien al wat nog werklik oorbly vir die mense van Suid-Afrika, ʼn regstelsel is wat billik en regverdig toegepas word en alle Suid-Afrikaners op gelyke wyse voor die reg behandel.

Die VF Plus het reeds gesê die mediese toestand van oud-pres. Zuma kan nie geheim gehou word nie aangesien hy ʼn openbare figuur is wat toegelaat het dat belastingbetalers se geld gesteel word.

Hy moet verklaar wat sy siektetoestand is sodat almal kan weet waaroor dit gaan en of hy werklik so siek is dat hy nie die hofverrigtinge kan bywoon nie aangesien hy nog altyd self volgehou het hy is onskuldig en dat hy graag sy dag in die hof wil hê om sy onskuld te bewys.