Daar hang vrae oor die geldigheid van lenings wat VBS Mutual Bank, voorheen bekend as die Venda Bouvereniging, aan kliënte toegestaan het aangesien die bank, strydig met wetgewing, glo beleggings van 21 munisipaliteite aanvaar het.

Munisipaliteite word ingevolge die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur verbied om by onderlinge banke te belê.

Die Reserwebank het VBS die afgelope naweek onder kuratele geplaas en die VF Plus doen ? beroep op die kurator om vas te stel of lenings wat toegestaan is met geld wat deur onwettige beleggingsgeld bekom is, geldig is.

VBS is daarvoor bekend dat hy veral huislenings aan plattelandse kliënte en kleinsake-ondernemings verskaf het.

Dié bank was verlede jaar ook in die kollig vanweë ? omstrede lening van byna R8 miljoen wat aan voormalige president Jacob Zuma toegeken is om vir sy deel van die opknappingswerk by Nkandla te betaal.

Die VF Plus het die Nasionale Kredietreguleerder verlede jaar versoek om te ondersoek hoe so ? groot lening terugbetaal kon word met die salaris wat die voormalige president toe verdien het. Die VF Plus gaan ‘n skrywe aan die kurator rig om die wettigheid van die lening spesifiek te ondersoek.

Daar hang ook steeds vrae oor die besluit van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) om so ? groot bedrag by VBS te belê dat hy nou byna 30% van die bank besit. Die OBK, wat staatsamptenare se pensioengeld belê, het in ? stadium selfs twee direkteure op VBS se direksie gehad. Die VF Plus het vandag parlementêre vrae hieroor aan die minister van finansies gerig.

Bogenoemde moet rooi ligte laat flikker en staatsamptenare kan met reg ontevrede voel oor die riskante wyse waarop hul geld heel waarskynlik deur politieke konneksies by VBS belê is.

Mediaverklaring deur:

Adv. Anton Alberts

VF Plus-voorsitter en parlementêre woordvoerder: Handel en nywerheid

13 Maart 2018