Die ANC-regering se skok oor die visa-aanbod van Australië aan Suid-Afrikaanse boere is lagwekkend gegewe sy eie bydrae tot die skep van die omstandighede wat die Australiese regering bekommer, naamlik wrede plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding.

Die regering kan eenvoudig nie meer glo die wêreld sal wegkyk terwyl hy in die spore volg van ander mislukte regerings soos Zimbabwe en Venezuela nie.

Die wêreld is inderdaad besig om kennis te neem van die ware kommunistiese aard van die ANC en daarom moet dié party nie verbaas wees indien daar spontane desinvestering plaasvind en ander state hulp begin aanbied aan geteikende minderhede nie.

Die ANC moet besef dat talle Europese lande, asook Brittanje en Amerika, skepties en met kommer na die ANC-regering begin kyk en soortgelyke aksies van visa-aanbiedings en desinvestering van elders kan te wagte wees.

Die enigste wyse hoe die ANC Suid-Afrika se aansien in die wêreld kan herstel, is om die beleid van onteiening sonder vergoeding te laat vaar, plaasmoorde te bestry met effektiewe polisiëring en minderhede se regte as volwaardige burgers te bevestig deur Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) en Regstellende Aksie (RA) uit te faseer.

Tot dit nie gebeur nie sal die wêreld Suid-Afrika met toenemende wantroue gade slaan en sal beleggings en talentvolle en hardwerkende burgers die land bly verlaat.

Mediaverklaring deur:

Adv. Anton Alberts

VF Plus-voorsitter en parlementêre woordvoerder: Ekonomie

15 Maart 2018