Daar sal indringend ondersoek gedoen moet word na die veiligheid van lugvaart in Suid-Afrika na ‘n ‘byna noodlottige ongeluk’ twee weke gelede (10 Julie) by die lughawe in Port Elizabeth, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor Vervoer.

Mnr. Thabelo Ledwaba van die Burgerlugvaart-Owerheid van Suid-Afrika, het vandag aan die VF Plus bevestig dat twee vliegtuie met gesamentlik meer as 200 passasiers aan boord, in ʼn voorval betrokke was wat bestempel word as ‘n ‘byna noodlottige ongeluk’ en dat die voorval ondersoek word.

Hy het ook bevestig dat die optrede van ʼn lugvaart-beheerder, wat moontlik ʼn rol kon speel in die voorval, ook ondersoek word. Volgens die VF Plus se inligting was die persoon glo ʼn regstellende aksie-aanstelling.

Mnr. Ledwaba het bevestig dat ʼn SA Express-vlug vanaf Durban omstreeks twee-uur die middag van 10 Julie na bewering toestemming gekry het om te land terwyl ʼn SAL-vliegtuig op die aanloopbaan was en gereed gemaak het om op te styg toe die ongeluk byna gebeur het.

Adv. Alberts sê volgens inligting wat hy ontvang het, het die vliegtuie mekaar ‘op die laaste oomblik’ gemis te danke aan die vernuf en vinnige optrede van die vlieëniers wat ongetwyfeld ʼn tragedie voorkom het.

“In die belang van veiligheid van lugvaart in Suid-Afrika, sal daar dringend gekyk moet word na die effek van regstellende aksie in ʼn hoë-risiko-werkomgewing soos hierdie.

“Daar is meer as genoeg bewyse, soos ons nou weer by die SAUK gesien het met die aanstelling van sy uitvoerende hoof, dat die ANC-regering bereid is om meriete en kwalifikasies oorboord te gooi in sy ylingse poging om Suid-Afrika op elke gebied te transformeer.

“Die VF Plus beskou hierdie voorval in ʼn uiters ernstige lig en sal op die hoogste vlak aandring dat ʼn bestekopname gedoen word van die standaard van opleiding en die vaardigheidsvakke van elke lugvaart-beheerder in Suid-Afrika,” het adv. Alberts gesê.