• Post category:All / Society

Kinderhuis loods Carpe Diem-projek om ekstra klasse vir kinders te befonds

* 80% van onderrigtyd is in 2020 weens die Covid-19-pandemie verloor.
* 50% van onderrigtyd is tot dusver in 2021 verloor.

Volgens Marlene de Villiers, skakelbeampte van die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom, het die grendeltyd alle skoolgaande kinders negatief geraak, veral kinders in kinderhuise.

“Vir die kinders van Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom, is die nagevolge van Covid-19 op onderwys vererger deur emosionele trauma. Vir kinders wat reeds uit agtergronde van mishandeling en mislukking kom, is akademiese prestasie moeiliker en terselfdertyd dringender as vir baie ander kinders. Baie van AKK Nylstroom se kinders sal nooit die kans kry om verder te studeer of om ʼn betekenisvolle bydrae tot die samelewing te maak as hulle nie akademies presteer nie. Covid-19 het hierdie kinders se toekoms in gedrang gebring,” het de Villiers gesê.

Met die akademiese ontwrigting wat deur Covid-19 veroorsaak is, is daar ʼn groot agterstand om in te haal, veral vir die hoërskoolkinders. Ekstra klasse is dus baie belangrik vir die toekoms van ons kinders. Die koste van die klasse wissel tussen R100 en R250 per uur, afhangend van die vak wat onderrig word, en word nie deur die staatsubsidie gedek nie.

Om die onderrignood te help verlig, het die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom die Carpe Diem Projek geloods. Met die projek word ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om SMS-skenkings, elk ter waarde van R15, te maak om die AKK Nylstroom te help om vir ekstra klasse, veral vir die matriekleerders, te betaal.

“Vir ons kinders kan R15 die verskil maak tussen ʼn blink toekoms of swak eksamenuitslae wat daardie toekoms onmoontlik maak. Vir ons kinders, maar ook vir ons land, is onderwys ʼn gebied waarin ons dringend moet belê”, het De Villiers gesê.

Om R15 te skenk, stuur die boodskap “Carpe Diem” aan 39236. Die SMS-koste beloop R15 per SMS. Gratis SMSe tel nie en bepalings en voorwaardes geld.