Die reddingsboei van R700 miljoen wat adjunkpresident Cyril Ramaphosa in Junie vanjaar na e-tol uitgegooi het, het skaars ʼn invloed gehad voordat die e-tolskip weer begin sink het, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Statistiek oor e-tol se geld- en bedryfsake wat die VF Plus aan die hand van geskrewe vrae van adv. Alberts bekom het, dui daarop dat adj.pres. Ramaphosa se toegewings, soos ʼn 60% korting op agterstallige rekenings, net vir drie maande ʼn effense opflikkering en toename in inkomste tot gevolg gehad het.

Verlede maand (September), het inkomste weer skerp geval en ʼn bedryfsverlies van sowat R6 miljoen is vir die maand aangeteken. Dit sluit aan by die vlakke van feitlik die hele jaar toe die bedryfsverlies sommige maande byna R20 miljoen beloop het.

Die projek se totale skuld beloop tans meer as R20 miljard, en nou word nie eens genoeg geld met e-tol gemaak om sy lopende maandelikse uitgawes te dek nie, sê adv. Alberts. Hierdie verliese alleen beloop hierdie jaar al sowat R35 miljoen rand.

Hy sê hierdie stelsel wat die regering op Suid-Afrikaners afgedwing het, is besig om “rampspoedige” afmetings aan te neem, en gesien in konteks met die huidige eise om meer bekostigbare hoër onderrrig, is dit duidelik hoe hoog die prys is wat Suid-Afrikaners vir e-tol betaal.

“Waar die R20 miljard uit ʼn leë staatskas vandaan gaan kom om vir nog ʼn ANC-debakel te betaal, is ʼn raaisel. En intussen groei die skuld by die dag.

“E-tol het van meet af aan geen legitimiteit gehad nie en die VF Plus het dit deurentyd op elke manier moontlik beveg. Dit moet onmiddellik geskrap word om die skade tot die huidige te beperk.

“Indien die ANC veel langer geld in hierdie bodemlose put afstort, kan hy verwag om soos met die studente-aksie, weer aan die ontvangkant te wees van die reaksie van ʼn bevolking wie se weersin in ʼn onbeholpe regering by die dag groei,” sê adv. Alberts.

  • ʼn Grafiese projeksie wat deel van die minister se jongste antwoord vorm en wat ware e-tol-inkomste en geprojekteerde inkomste aandui, verskil skerp teenoor die vorige weergawe wat in Mei vanjaar aan die VF Plus gegee is.

Verskeie ‘aanpassings’ is gedoen vanaf Oktober 2014 en is duidelik ʼn poging om die indruk te skep dat projeksies redelik akkuraat en selfs baie konserwatief gedoen is. In teenstelling daarmee toon dieselfde grafika van Mei vanjaar dat projeksies verstommend onakkuraat en ooroptimisties was.

Een voorbeeld is Maart vanjaar waar die projeksie sowat R175 miljoen rand hoër as die ware syfer was. (Sowat R66 miljoen ware inkomste teenoor ʼn geprojekteerde sowat R240 miljoen.) Op die aangepaste statistiek word die geprojekteerde inkomste as skaars meer as R40 miljoen aangedui, ʼn aanpassing van sowat R200 miljoen!

Adv. Alberts sê dit is duidelik ʼn poging om toe te smeer met hoeveel onkunde en oneerlikheid die projek aangepak en gedryf is, en hoe oordadig optimisties die projeksies aanvanklik gemaak is om e-tol te regverdig.

“Hierdie dien as verdoemende bewys van groot oneerlikheid rondom die e-tolstelsel en hoe die publiek doelbewus mislei is,” sê adv. Alberts.