Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, se striemende aanval op Saru en Heyneke Meyer, Springbok-afrigter, onderstreep opnuut die ANC-regering se beheptheid met kleur en kwotas ten koste van meriete en sport-ontwikkeling,” sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor sport.

Adv. Alberts sê te oordeel aan die venynigheid van Mantashe, wil dit voorkom asof hy ʼn obsessie het om alles waarin Afrikaners en wittes presteer, te vernietig.

Luidens ʼn mediaberig in vandag se Business Day Live het Mantashe onder meer gesê Saru laat Meyer toe om te ‘maak en breek’ net soos hy wil.

Volgens adv. Alberts bly die Springbokspan een van Suid-Afrika se voorste sportspanne wie se prestasies, wat wêreldtitels aanbetref, ongeëwenaard is. Tog is die ANC nie trots op hierdie merkwaardige span nie, maar sal hom eerder verdag maak en kritiseer by elke geleentheid.

“Daar kan geen twyfel bestaan nie dat die kwota-druk deurentyd soos ʼn swaard oor die span en sy afrigter hang nie en dat dit ʼn negatiewe invloed op die span en sy vertonings het. Dit is bewys deur wat met die Protea-span in die pas afgelope krieket-wêreldbekerreeks gebeur het.

“Dit is tragies dat die span met hierdie ketting om die enkel teen spanne soos die All Blacks, Engeland en die Wallabies moet meeding. Tog bly die land se rugby- en krieketspan van die beste in die wêreld.

“Daarenteen swyg ʼn mens liefs oor die prestasie van die nasionale sokkerspan wat sonder enige kwota-druk speel. Die span het tans bloot ʼn verleentheid vir die land geword.

“Nogtans het die sportminister, Fikile Mbalula, onlangs op ʼn parlementêre navraag van die VF Plus oor die waarom kwotas nie ook vir die sokkerspan geld nie, dit duidelik gemaak dat die ANC nie sal rus tot spanne die nasionale demografie weerspieël nie. In welke geval daar net een witte vir die Proteas, en nie eens twee vir die Springbokke gekies sal kan word nie,” sê adv. Alberts.

Hier volg die verklaring wat die VF Plus op enkele weke gelede hieroor uitgereik het:

Die ANC-regering is tevrede dat wit en bruin regverdig behandel word en genoeg speelkans kry in die land se nasionale sokkerspan, blyk dit uit antwoorde van die sportminister op geskrewe parlementêre vrae van adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor sport.

Dit is nieteenstaande die feit dat daar in die afgelope Saterdag se Suid-Afrikaanse nasionale sokkerspan net een wit speler uit ʼn groep van 17 was, en daar tans net 1 wit en 2 bruin spelers in die eerstespan-groep van 27 is.

Die Bafana Bafana-groep vir die wedstryd die afgelope naweek in Donsonville, Soweto, het bestaan uit: Begin elftal: Khune (c), van Heerden, Gumede, Letlabika, Mngonyama, Motupa, Nyatama, Masango, Twala, Ntshangase, Gabuza. Die plaasvervangers was: Mabokgwane, Madisha, Mabena, Mxoyana, Ntuli, Wana.

Volgens die sokkerwerbwerf KICKOFF.com blyk dit dat net Marc van Heerden en die twee bruin spelers, Rivaldo Coetzee en Clayton Daniëls, tans goed genoeg vir die sukkelende span geag word.

Adv. Alberts sê die stand van sake en die antwoord van minister Fikile Mbalula is betreurenswaardig aangesien die minister verlede jaar aan homself en verskeie ander persone die onderneming gegee het om stappe te neem om meer wit en bruin spelers vir die span te laat speel.

Dit was nadat ontevredenheid ontstaan het oor die regering se aandrang dat ʼn sekere aantal swart spelers in die nasionale rugbyspan opgeneem moet word.

Die minister se volledige antwoord op adv. Alberts se vrae lui dat alle sportspanne moet transformeer om aan die nasionale demografie te voldoen, en dat die ‘huidige sokkerspan sowat 80% swart-, 9% bruin/Indiër-, en 9% wit spelers het”.

“Dit beteken dat wit-, bruin- en Indiërspelers die geleentheid kry om gekies te word,” lui die antwoord.

Adv. Alberts sê dit is jammer dat die minister, nieteenstaande die bewyse op die veld, die publiek so probeer mislei.

“Gister het die hele land saam die Springbokke se wêreldbeker-oorwinning 20 jaar gelede gevier. Dit was een van die min ware oomblikke van nasiebou wat die land beleef het.

“Tog sal die regering aanhou om met politieke inmenging ons sportspanne af te breek tot hulle in middelmatigheid verval soos met Eskom en die land in sy geheel gedoen word,” sê adv. Alberts.