Minister Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, se eensydige besluit om die Pansat-raad te ontbind, is ʼn reuse fout wat die bevordering van veeltaligheid in Suid-Afrika jare terugsit.

Die vraag is of die forensiese verslag wat die Pansat-raad laat opstel het oor vorige korrupsie en misbruik van geld by Pansat, ʼn rol gespeel het in die skielike besluit van die minister om die Pansat-raad af te dank. Die verslag is nog nie bekend gemaak nie en die VF Plus sal daarop aandring dat dit nou openbaar gemaak word. Wat bevind die verslag en skram die minister en die departement dalk weg van die onthulling van korrupsie en vermorsing in die verlede?

Die huidige Pansat-raad het uit taal-aktiviste en kundiges uit die verskillende Suid-Afrikaanse tale bestaan. Was hierdie raad so onbekwaam as wat die minister beweer of is hulle afgedank omdat hierdie kundiges nie na die pype van die minister en die ANC wou dans nie?

Die afgedankte Pansat-raad het by hulle aanstelling 18 maande gelede ʼn Pansat geërf wat miljoene rand per jaar oorbestee het met 80% van die personeel wat reuse salarisse trek, maar niks met die bevordering van taal te doen het nie.

Deur hierdie huidige raad met ANC-napraters te vervang gaan nie veeltaligheid in Suid-Afrika bevorder of die duur en lomp Pansat meer doeltreffend maak nie. Suid-Afrika verloor ook ten minste weer twee jaar voordat enige nuwe raad die huidige Pansat-probleme sal verstaan en sal kan begin oplos.