Wie is ”n rassis en wie nie? In Suid-Afrika is daar tans ʼn ernstige debat oor rassisme. Ons in hierdie raad is die verkose leiers van die mense daarbuite. Ons moet leiding gee. Tot op datum was daar nog geen debat oor hierdie saak in die parlement nie. Daarom het ek hierdie debat aangevra.

Ons verskil oor baie sake, daarom sit ons hier in verskillende politieke partye. Vraag is: verskil ons in ons veroordeling van rassisme?

Ek glo dat in debatte soos hierdie moet leiers die voorbeeld stel. Leiers van alle kante. Leiers bepaal die trant van sulke debatte in ”n gemeenskap.

In die SONA-debat het ek gesê, ook as boodskap aan my ondersteuners: “Rassisme is ‘n baie ernstige saak wat onvoorwaardelik veroordeel moet word. Rassisme vanaf wit mense of swart mense dra die kiem wat Suid-Afrika kan vernietig en so ook alle menseverhoudinge.

Daarna het ek verwys na die t-hemp by Ikeys met “Kill all whites” op. Ek het geglo die president sal die geleentheid gebruik om dit ook te veroordeel. My groot teleurstelling was dat hy nie daarop gereageer het nie.

Ek vergelyk nie graag presidente nie. Elke president se tyd en omstandighede is anders. Maar waar ek sedert 1994 in hierdie raad sit, is ek bereid om te sê dat presidente Mandela, Mbeki en Motlanthe dit sou veroordeel omdat hulle die emosionele konflik-potensiaal van so ʼn t-hemp verstaan.

Waar kom die studenteprotes vandaan?

Die afgelope dekade het die regering jaarliks minder geld aan universiteite gegee. Daarom het studies steeds duurder geword. Die “fees-must-fall”-protesveldtog was ʼn reaksie hierop. Dit was ʼn breë protes oor taal- en kleurgrense heen.

Die huidige protes is anders. Die huidige protes is grootliks kunsmatig. Op elke kampus is daar ʼn klein klompie aktiviste – vier vyf wat op ʼn berekende wyse protes aan die gang probeer kry. Hulle word nie deur duisende studente ondersteun soos met “fees-must-fall” nie maar net ʼn paar honderd. Hierdie is ʼn kunsmatige poging van sekere politieke magte en die EFF om ʼn rewolusie-klimaat te skep.

Die kunsmatigheid is duidelik uit die feit dat by elke kampus daar na ʼn grief gesoek word. By Ikeys is dit koshuisinwoning; by Weskaap kontrakwerkers; by Universiteit van Pretoria Afrikaans. Toe daar by Mahikeng nie ʼn probleem met Afrikaans of wittes is nie, word die studenteraad die grief om geboue af te brand.

Minister Gordhan kan sy bes doen om buitelandse beleggingsvertroue te herstel, maar as foto’s van brandende universiteitsgeboue in die buiteland verskyn, trek dit ʼn streep deur sy pogings.

Artikel 17 van die Grondwet: “Elkeen het die reg om vreedsaam en ongewapen te vergader, te betoog, ‘n betooglinie te vorm en petisies voor te lê.”

Maar daar is nie ‘n reg om dit met geweld te doen of om eiendom te vernietig nie.

Artikel 16 waarborg Vryheid van uitdrukking maar stel dit dan dat hierdie reg nie omvat die

“b) aanstigting van dreigende geweld nie of

“c) die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gebaseer is en wat aanhitsing om leed te veroorsaak, uitmaak nie.”

Is dit nie presies wat ons die afgelope tyd gesien het nie? Is dit nie wat die “Kill all Whites” t-hemp probeer doen nie?

Kampusrektore en die regering moet nie huiwer om teen hierdie studente op te tree as hulle protes na geweld oorgaan nie, as hulle eiendom beskadig of die regte van ander studente aantas nie. Dit is teen die grondwet en al manier om hierdie probleem aan te spreek.

Ek het gese leiers bepaal die trant van sulke debatte en het die ANC gekritiseer vir hulle gebrek aan leierskap oor hierdie sake. Hierdie naweek het het die agbare minister Blade Nzimande my verkeerd bewys. Volgens die Sunday Times het hy hierdie naweek gesê:

“These anti-white sentiments from student could lead to racial conflict. The students’ approach was doing more harm than good to the struggle for non-racialism. ‘We want to build a non-racial society, we must confront racists and racism but we must be above them…'”

Vir een keer in my lewe stem ek saam met die die agbare minister.

Die meerderheid studente wil studeer. Is dit billik dat ʼn klein klompie aktiviste verhoed dat hulle studeer soos nou by Soshanguve gebeur?

Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) het in ʼn meningspeiling oor ras bevind dat 85% van alle Suid-Afrikaners saam stem dat verskillende rassegroepe mekaar nodig het om ʼn sukses van Suid-Afrika te maak. 76% het gesê rasseverhoudinge het verbeter of dieselfde gebly. Net 14% het gesê dit het versleg (die res het nie geweet nie).

Die meerderheid Suid-Afrikaners is goeie mense wat nie konflik of rassespanning wil hê nie. Stuur ons as leiers in hierdie raad ʼn eenparige standpunt na buite oor rassisme of verskil ons in ons veroordeling van rassisme?

My kleinseun Pieter is vandag presies ʼn week oud. Hy is 50 jaar oud in 2066. Hoe gaan Suid-Afrika dan lyk? ʼn Land van geweld, rassisme en ʼn burgeroorlog? Of ʼn land wat ʼn model vir die wêreld is oor hoe verskillende groepe kan saamwerk en elkeen ʼn plek in die son gun?

Wat ons vandag hier doen — begin reeds daardie toekoms bepaal.