Die pogings om Afrikaans te marginaliseer is niks anders nie as politieke dwepery en ʼn poging om aggressiewe studente-bewegings soos dié van die EFF te paai om vrede ten alle koste te bewerkstellig.
Dit is die kern van die boodskap van die VF Plus in sy voorlegging aan die Onafhanklike Transformasiekomitee van die Universiteit van Pretoria (UP).
Die volledige verklaring van adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor hoër onderwys, lui voorts:
“Die sogenaamde “bevoorregting” van Afrikaanssprekendes (die Afrikanerminderheid) is ʼn valse voorstelling van die groep mense. Enersyds is die groep die derde grootste taalgroep in Suid-Afrika en andersyds is die meeste sprekers van die taal nie meer blank nie. Daar kleef geen meer rassisme aan die taal nie en daarbenewens is opleiding in Afrikaans vir baie Afrikaanssprekende mense, en veral, armes, dan eerder meer ʼn instrument tot ontwikkeling as enige iets anders.
Die afskaffing van Afrikaans is geen conditio sine qua non (voorvereiste) vir beter onderrig aan almal nie. Trouens die afskaffing van Afrikaans verskraal akademiese geleenthede vir ʼn groot groep mense van alle rasse is Suid-Afrika. Die enigste wyse om ʼn regverdige tersiêre bestel te skep, is om meertalige onderrig te laat gedy.
Die probleem met Engels as enigste onderrigtaal is dat die meeste mense in Suid-Afrika van alle rasse se moedertaal nie Engels is nie, maar een van die ander werklik inheemse tale insluitende Afrikaans. Dit beteken dat meeste studente wat in Engels onderrig word, moeilike konsepte moet baas raak in ʼn taal wat hul tweede tot vyfde taal is. Hierdie probleem is al goed geïdentifiseer op basiese onderwysvlak. Dit is daarom onsinnig dat die probleem nou op tersiêre vlak herhaal moet word.
Hierdie beleid om Afrikaans te verskraal is in skrille kontras met die gees van die 1994-skikking en die Meertalige Taalbeleidsraamwerk wat in 2002 van krag geword het. Deur ʼn streep te trek deur Afrikaanse tersiêre onderrig word die 1994-ooreenkoms geskend en verklaar die UP kulturele oorlog teen Afrikaanstaliges.
As die aspek van die 1994-ooreenkoms geskend kan word, dan kan die res ook uitmekaar torring en kan dit die hele post-94-samelewing in gedrang bring. Dit is die wesenlike gevaar indien ʼn nuwe ooreenkoms met revolusionêre magte soos die EFF aangegaan word om Afrikaans tot ʼn val te bring. Hierdie ooreenkoms met revolusionêre magte sal dus die belangrike en epogmakende 1994-ooreenkoms ongedaan maak. Dit stel ʼn wesenlike vertrouensbreuk daar tussen Afrikaanstaliges en die heersende orde met chaos as voorland weens die aanvaarding van ʼn revolusionêre etos.
Die werklike probleem is egter soos vervat in die Children’s Institute aan die Universiteit van Kaapstad se jongste Child Gauge-verslag wat aandui dat die probleem by basiese onderwysvlakke lê.
Die oplossing is die erkenning van moedertaal-onderwys. Dit is bewys deur onder andere Jim Cummings, ʼn Kanadese wêreldleier in tweetalige onderwys. Hy het vasgestel dat kinders moedertaal broodnodig het om kognitiewe ontwikkeling te verseker, veral kinders wat aan benadeling blootgestel word of wat uit minderheidstaalgroepe kom. Cummings en ander navorsers het vasgestel dat te vroeë oorskakeling na ʼn onderrigmedium wat nie die moedertaal is nie, en sonder die behoud van die moedertaal in die onderwyssituasie, katastrofiese gevolge kan inhou vir die kognitiewe ontwikkeling van dié kinders.
Afrikaans is dus bloot die weerligafleier vir die werklike probleem.
Die Slegs Engels-veldtog is op ʼn valse grondslag gebou en word polities gebruik deur die EFF en ander magte om stemme te werf. Om daaraan gehoor te gee, is irrasioneel.
Meertaligheid en moedertaal-onderrig is die antwoord. Dit is wetenskaplik bewys. Kom ons volg ʼn beleid wat rasioneel is ter wille van ons studente.”