Die oproep van die ANC se jeugliga om Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein in Pretoria te verwyder, het niks met apartheid te make nie, en is net nog ʼn poging om die Afrikaner ʼn plek in Suid-Afrika se samelewing te ontsê, sê Philip van Staden, VF Plus-LPW en adjunk-provinsiale leier vir Gauteng.

Van Staden sê dit is alombekend dat Kruger een van die land se grootste vryheidsvegters was en dat hy ʼn fanatiese teenstander van imperialisme was, soos die Tweede Vryheidsoorlog teen Brittanje van getuig.

“Kruger kan geensins aan apartheid gekoppel word nie. Tewens, met die oorlog teen die Britte het hy selfs verkies dat swartes nie deelneem nie alhoewel groot getalle later aan Engelse kant teen die Boererepublieke geveg het.

“Hierdie moet gesien word as deel van ʼn groter aanslag teen wittes in die land wat besig is om hand oor hand in felheid toe te neem.

“Eers is wette soos regstellende aksie (RA) in plek geplaas om die wittes en ander minderhede totaal te ontman en uit die werkplek te dwing. Nou word die gom wat die Afrikaner as kultuurgroep bind, aangeval deur sy taal by skole en universiteite, plekname, skoolname, sportdeelname en standbeelde aan te val.

“Wat Kruger aanbetref, volhou die VF Plus dat die standbeeld nie as kwetsend beskou kan word nie, en sal die party alles in sy vermoë doen om die behoud daarvan te verseker,” sê Van Staden.