Die Vryheidsfront Plus verwelkom die uitspraak in die Johannesburgse hooggeregshof dat mediese parool aan Clive Derby-Lewis toegestaan word. Dit is duidelik uit regter Selby Baqwa se uitspraak dat politieke
dienstigheid geen rol daarin gespeel het nie. Dit is jammer dat burgers hulle telkens na die howe moet wend om die ANC te dwing om medemenslikheid, ubuntu, regverdigheid en billikheid af te dwing.

Hoewel die VF Plus die daad waarvoor Derby-Lewis gestraf is veroordeel, behoort dit geen oorweging te wees as parool en veral mediese parool oorweeg word nie. Daarom beëindig die regter se uitspraak ʼn onreg wat oor etlike jare strek.

Clive Derby-Lewis (79) het reeds sewe jaar gelede in Oktober 2008 aan al die vereistes vir parool voldoen. Die paroolraad het dan ook toe parool aanbeveel wat afgekeur is.

Die paroolraad, wat Derby-Lewis se drie vorige aansoek aanbeveel het, het in al drie aanbevelings bevind dat hy berou het. Die politieke hoofde soek egter telkens redes en verskonings om die parool af te keur.

Die grootste onreg was toe die aanbeveling van die mediese parool-adviesraad dat Derby-Lewis mediese parool moet kry, afgekeur is. Die mediese parool-adviesraad se 17 mediese dokters en spesialiste se
aanbeveling is deur die minister, met geen mediese kennis nie, afgekeur.

Politieke oorwegings en dubbele standaarde het sonder twyfel die deurslag gegee in al die vorige regeringsbesluite oor parool vir Derby-Lewis. Dit is veral duidelik as Clive Derby-Lewis se geval met die mediese parool wat aan Schabir Shaik gegee is, vergelyk word.

Tydens die grondwetlike onderhandelinge is politieke misdade wat vir amnestie in aanmerking kom gedefinieer as iemand wat ʼn misdaad gepleeg het met politieke redes as motief. Derby-Lewis voldoen hieraan. Hy het niemand vermoor nie, maar het wel die vuurwapen verskaf waarmee Walus vir Chris Hani vermoor het.

Voor die waarheidskommissie saamgestel is, het reeds 22 000 ANC-gevangenes vrylating gekry as voorwaarde van die ANC-onderhandelaars. Die resultaat was dat 95% van die amnestie-aansoekers tydens die waarheid- en versoeningsverhore nie ANC-lede was nie en baie sake tot vandag nog uitstaande is. Die onreg en kortsigtigheid blyk daaruit dat toe algemene amnestie daardie tyd ter sprake was, die NP-onderhandelaars dit nie nodig geag het vir die nie-ANC-oortreders nie.

Daarom is amnestie in die verlede toegestaan aan mense soos Robert McBride wat talle onskuldige mense vermoor het met ʼn bomaanval in die Magoo’s-bar in Durban, en aan PAC-lede wat onskuldige kerkgangers in Kaapstad vermoor het. Clive Derby-Lewis het nie amnestie gekry nie.

Die wat amnestie gekry het, het dit gekry omdat in die interim-Grondwet staan: “Die geleentheid is nou daar om dit (vergrype van die verlede) reg te stel op ʼn grondslag dat daar ʼn behoefte bestaan aan begrip en nie wraaksug nie, ʼn behoefte aan herstel en nie vergelding nie, ʼn behoefte aan medemenslikheid en nie viktimisering nie.”

Iets daarvan kom nou na vore in die regter se uitspraak oor Derby-Lewis en word verwelkom