Uit die president se verklaring oor die Grondwethof se uitspraak is dit duidelik dat die president geen werklike begrip het van die erns of implikasies van die uitspraak nie. Daarom ag hy dit nie nodig om te bedank nie en word alles afgemaak met ʼn verskoning en ʼn bereidheid om die bedrag wat bepaal word, te betaal.

Die president is ook feitelik verkeerd as hy argumenteer dat hy van die begin af sy samewerking aan die Openbare Beskermer gegee het. Sy kantoor het alles in hulle vermoë gedoen om die Openbare Beskermer te frustreer in haar pogings om die Nkandla-saak af te handel. Net een voorbeeld: Tot op datum het die president nog nie op 15 vrae van die Openbare Beskermer aan hom oor die aangeleentheid geantwoord nie.

Vir die president om agter die onduidelikhede oor die ministeriële handboek ten opsigte van veiligheidsmaatreëls by lede van die Uitvoerende Gesag te skuil, is polities oneerlik. Na talle versoeke van die VF Plus oor die verbetering van die onduidelikhede in die ministeriële handboek, word dit berekend reeds vir etlike jare deur die regering vertraag.

Uit die president se verklaring is dit duidelik dat die sogenaamde top ses lede van die ANC nie die moed het om die regte ding in belang van Suid-Afrika (en toevallig ook die ANC) te doen nie. Die regte ding sou wees om die president te laat bedank en so Suid-Afrika ʼn geleentheid te gee om van hierdie gemors te herstel. Dit sou selfs ʼn positiewe uitwerking op die dreigende afgradering na rommelstatus gehad het.

Suid-Afrikaners moet hulle nou reg maak vir ʼn lang uitgerekte en pynlike proses tot president Zuma se bedanking. Soos mnr. PW Botha van ouds, het president Zuma vanaand nie sy Rubicon oorgesteek nie. Tog sal die geskiedenis aantoon hoe vanaand die duidelike begin van sy roemlose einde is.