Nog ʼn boer is dié week wreed vermoor en sy vrou met messe gesteek en vermoedelik verkrag en die VF Plus sal aanhou om alles in sy vermoë te doen om die internasionale gemeenskap oor die slagting onder Suid-Afrikaanse boere in te lig.

In die jongste voorval is ʼn plaasbestuurder (40) en sy vrou (39) van Ladybrand Maandagaand (19 Maart) omstreeks 19:00 oorval kort nadat hulle op die plaas Brandenberg, sowat 5km vanaf Ladybrand tuisgekom het.

Albei is vasgebind en die man is met messe doodgesteek. Die vrou is ook met messe gesteek en luidens mediaberigte ook verkrag. Sy kon later loskom en het te voet gaan hulp soek. Die egpaar het drie kinders. ʼn Dogter van 14 en seuns van 11 en 7.

Die onopgetekende tragedie van die laaste dekades se plaasaanvalle waarin honderde boere vermoor is, lê in die effek wat dit op naasbestaandes het. Soos in hierdie geval waar drie jong kinders nou sonder ʼn pa moet grootword en waar ʼn ma waarskynlik die res van haar lewe met erge emosionele verwonding sal moet worstel.

In die ANC-regering se arrogante reaksie op ʼn land soos Australië se uitlatings oor plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding verlede week het veral een aspek duidelik uitgestaan:

Dit is dat die boodskapper aangeval is, maar dat niks oor die boodskap self gesê is nie. Hierdie boodskap is die harde werklikheid van plaasmoorde en werklikheid van onteiening sonder vergoeding waarvoor die ANC-regering hom beywer.

Die VF Plus sal nie rus in sy pogings om die wêreld hieroor in te lig nie, en dit is waarom die VF Plus se leier, dr. Pieter Groenewald vandeesweek na Brussel in België reis: Om te sorg dat daar kennis geneem word van die lot van minderhede in Suid-Afrika.

Mediaverklaring deur:

Jan van Niekerk

VF Plus-provinsiale leier: Vrystaat

20 Maart 2018