Die Vryheidsfront Plus het vandag die hantering van die
gesondheidskrisis in die Vrystaat deur die ANC en die wyse waarop hulle
die debat oor die Departement van Gesondheid gister in die Vrystaatse
Wetgewer benader het, ten sterkste veroordeel.

Die ANC-lede in die Wetgewer het ‘n bespotting en ‘n sirkus van die
debat gemaak en ontken dat daar enigsins ‘n krisis in die Departement
bestaan.

Die LUR het eerder gekies om lede van die opposisie persoonlik te
beledig en hulle allerhande psigiatriese afwykings en ander siektes toe
te skryf. Dit is kommerwekkend dat die regerende party, die Wetgewer
as instelling minag en nie ernstig debatteer oor ‘n kwessie so
belangrik soos gesondheidsorg in die Vrystaat nie. Die ANC gee voor
asof die Departement van Gesondheid slegs klein uitdagings in die gesig
staar en slegs ‘n paar golfies moet oorkom, terwyl die Departement
onder administrasie geplaas is en op grondvlak daar ‘n totale krisis
t.o.v. ‘n tekort aan medisyne, mediese toerusting en ander
noodsaaklikhede bestaan. Die Departement is in finansiële chaos.

Wouter Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaatse Wetgewer, het tydens die
debat gesê dat die wanadministrasie en veral finansiële wanbestuur van
die Departement besig is om mense in die Vrystaat te vermoor. Wessels
het ook gevra of die LPWs van die ANC van openbare hospitale gebruik
maak en of hul eerder veilige, privaat hospitale besoek, terwyl die
armes en weerloses in die Vrystaat geen ander keuse het as om openbare
hospitale te besoek nie.

Die feit dat die ANC apartheid vir alles wat verkeerd is in die Vrystaat
blameer, spreek van ‘n regering wat voeling met die werklikheid verloor
het. Dit is onaanvaarbaar dat die ANC-regering nie die krisis erken en
daadwerklik optree, eerder as om hande in die lig te gooi en apartheid
vir die krisis te blameer nie.

Die ANC-regering in die Vrystaat is magsbehep, ignoreer alle reëls en
prosedures en is besig met ‘n tirannie van die meerderheid, terwyl die
mense van die Vrystaat ly.