Die Vryheidsfront Plus veroordeel die mees onlangse plaasaanval te Harrismith op ʼn 58-jarige vrou op Sondagmiddag, 4 Oktober 2015 ten sterkste. Die vrou se identiteit is aan die VF Plus bekend, maar word om sensitiewe redes weerhou.

Die VF Plus betreur die feit dat, soos in die Kritzinger-egpaar van Vrede se geval, baie erge marteling plaasgevind het. Die slagoffer is onder andere met ʼn strykyster gebrand. Die brutaliteit wat met hierdie aanvalle gepaard gaan, dui op haat teenoor die slagoffers.

Die afwesigheid van die regering en die blatante verontagsaming van hul plig is beslis indirek verantwoordelik vir die toenemende aantal plaasaanvalle.

Die VF Plus eis dat die LUR vir polisie ingryp en dat hierdie plaasaanvalle deur wreedaardige barbare op die ergste moontlike manier gestraf sal word, sodat sodanige oortreders in hegtenis geneem sal word en nooit weer die buitekant van ʼn tronk sal sien nie. Dit is die enigste wyse wat as afskrikmiddel teen plaasaanvalle sal dien.

Mnr. Jan van Niekerk, Vrystaatse provinsiale leier van die VF Plus, sê die VF Plus eis steeds die herinstelling van die doodstraf vir moordenaars, aangesien die regstelsel van Suid-Afrika uitgelag word deur misdadigers wat letterlik met moord wegkom. Plaasaanvalle moet as ʼn prioriteitsmisdaad verklaar word. Die huidige strafstelsel dien nie as ʼn voldoende afskrikmiddel vir hierdie misdadigers nie.

Die VF Plus is in kontak met die vrou se familie en sal hulp verleen waar nodig.