Besonderhede oor ʼn plaasaanval hierdie week in Bonnievale in die Wes-Kaap is ontstellend, maar terselfdertyd ook tekenend van die verskuiwing van die verskynsel van plaasaanvalle na die Wes-Kaap waar dit voorheen haas onbekend was.

In die voorval Maandag op die plaas Kapteinsdrif naby Bonnievale, is mnr. Tool Wessels (55) vermoor en sy vrou, Liezel, erg beseer nadat sy onder meer met kookwater gebrand is. Mnr. Wessels is ook grusaam gemartel voordat hy vermoor is.

Die VF Plus veroordeel hierdie voorval, soos elke moord en geweldsvoorval in Suid-Afrika waarin mense betrokke is en vermoor of beseer word, in die sterkste terme moontlik. Dit is onaanvaarbaar.

Die party wil sy opregte medelye uitspreek teenoor naasbestaandes en vriende van die egpaar, en teenoor die gesinslede in die besonder.

Die VF Plus het dit nog altyd sy erns gemaak met plaasaanvalle, en sal voortgaan om druk vol te hou op die regering om dié soort misdaad te prioritiseer, en sal ook aanhou met sy veldtog om die internasionale gemeenskap op hoogte te hou aangaande plaasaanvalle in Suid-Afrika.