Terwyl die wêreld steeds meer sensitief raak vir die belangrikheid van ʼn persoon se moedertaal, beweeg Suid-Afrika en die EFF-jeug in die teenoorgestelde rigting. Die eis dat slegs Engels as taal by Tukkies en ander universiteite gebruik moet word, bevestig hierdie tendens. So ʼn taaleis is agteruitbeweeg en teen die moderne wêreldtendense.

Vandag (Sondag 21 Februarie) is Internasionale Moedertaaldag. Die dag is deur UNESCO ingestel ten einde onderwys vir meer mense toeganklik te maak deur onder meer onderwys in hul eie taal te kan ontvang.

Die studente se eis dat alle onderrig in Engels moet geskied, maak geen voorsiening daarvoor dat dit universiteitsonderrig vir ander studente ontoeganklik maak nie. Terwyl die meerderheid wit en bruin leerlinge byvoorbeeld in die Wes-Kaap matriek deur die medium van Afrikaans skryf, word hulle nou gedwing om in Engels verder te studeer. Die Universiteit van Kaapstad het tot ʼn taalklousule wat ʼn sekere standaard Engels van studente vereis voor toelating.

Met 25 Suid-Afrikaanse universiteite met meer as 36 kampusse behoort dit maklik te wees om UNESCO se doel van onderrig in meer tale as Engels moontlik te maak. Verder erken Suid-Afrika se Grondwet elf amptelike tale (art. 6) en maak art. 29 tot voorsiening vir onderrig in meer tale.

Dit raak al hoe meer duidelik dat die studenteprotes nie soseer oor transformasie en Afrikaans as taal gaan nie, maar oor ʼn onverdraagsame nasiebou-model wat geen voorsiening vir veeltaligheid maak nie.

Op 17 November 1999 het UNESCO aangekondig dat 21 Februarie voortaan as Internasionale Moedertaaldag erken sal word.

Die dag 21 Februarie is gekies omdat verskeie studente van die Universiteit van Dhaka in 1952 deur polisie doodgeskiet is toe hulle vir die erkenning van Bengali as amptelike taal in Oos-Pakistan betoog het. Vandag is die gebied as Bangladesj bekend met Bengali as een van die amptelike tale. Daar is ook ʼn indrukwekkende taalmonument in Dhaka gebou om die tragiese gebeure te herdenk.

Volgens die Verenigde Nasies (VN) is die doel van die dag die bevordering en erkenning van die taal- en kultuurverskeidenheid in die wêreld.

Die VN het besluit om verdere gewig aan die bevordering van taal- en kultuurverskeidenheid te gee deur 2008 as Internasionale Taaljaar te herdenk.

Gesien teen die agtergrond van gebeure by Tukkies is dit ironies dat UNESCO se tema vir Moedertaaldag 2016 onderwys en die belangrikheid van moedertaal-onderrig is. Die VN wil daardeur onderwys meer toegangklik maak vir minderheidstaalgroepe, inheemse tale en vir vroue en meisies in die wêreld.