Die VF Plus het landwyd stewig gegroei in 2106 se munisipale verkiesing en het veral beïndruk deur groot deurbrake te maak in provinsies waar daar histories feitlik geen VF Plus-voetspoor was nie, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Waar verskeie kleiner partye in die pas afgelope verkiesing amper uitgewis is, is die VF Plus tans die vyfde sterkste uit die meer as 200 partye wat aan die plaaslike verkiesing deelgeneem het. Die party het ook met byna 30% gegroei sedert die onlangse 2014-verkiesing.

In al nege provinsies het die VF Plus se stemtotaal vermeerder. In sommige provinsies het dit verdubbel, in die Wes-Kaap vervierdubbel en in Noord-Kaap selfs vyfvuldig gegroei. Die gevolg is dat die VF Plus vir die eerste keer raadslede verkies gekry het op plekke waar die party in die vorige termyn geen teenwoordigheid gehad het nie.

Die VF Plus het nou byvoorbeeld vir die eerste keer raadslede in Kimberley, Upington; Koster, Ottosdal, Wolmaransstad, Schweizer-Reneke, Zeerust, Nelspruit, Worcester, Paarl, Mosselbaai, Hessequa, Fronkfort, Newcastle ens. terwyl uitslae nog inkom.

In talle ander munisipaliteite soos Krugersdorp, Middelburg, Kroonstad ens. het die VF plus sy raadslede verdubbel. Verskeie van die nuwe VF Plus-raadslede is oud DA-raadslede wat nou by die VF Plus aangesluit het of oud DA-parlementslede soos Lourie Bosman wat in New Castle in KZN verkies is.

Waar die VF plus sy verkiesingsveldtog grootliks rondom koalisies en regstellende aksie geloods het, is die party reg bewys deurdat daar talle koalisies na die verkiesing gevorm sal moet word waar geen party 51% steun het nie. In verskeie van hierdie rade sal die VF Plus die koningmaker wees deurdat die party se keuse sal bepaal watter koalisie die munisipaliteit regeer.

Bereken in stemme, het sowat 120 000 mense in 2011 hul kruisies langs die Vryheidsfront Plus getrek. Teen Vrydagmiddag het die getal reeds na aan 215 000 gestaan, byna ʼn verdubbeling.

Dr. Mulder sê die groei is ʼn sterk aanduiding dat die party enersyds in tradisionele sterkpunte steun van ander partye weggerokkel het, en andersyds dat ander minderheidsgroepe vir die eerste keer hulle skaar agter die VF Plus.