VF Plus gaan ʼn dringende aansoek na die hooggeregshof bring om die geldigheid van die Nasionale Rampbestuurswet te betwis en om die hof te vra om te bevind dat die regering dié wet misbruik wat daarop neerkom dat die ramptoestand en die gepaardgaande regulasies ongrondwetlik is.

Die gewig van algemene belange deur die ontsluiting van die ekonomie moet nou in ag geneem word. Dit word tans nie met die drakoniese inperkingsregulasies gedoen nie.

Die inperking en die gepaardgaande regulasies het reeds hul doel bereik om die infeksiekurwe genoegsaam af te plat en om gesondheidsdienste die tyd te gun om gereed te maak vir ʼn moontlike groot uitbreking van Covid-19.

President Cyril Ramaphosa, asook die regering se hoof-gesondheidsraadgewer, prof. Salim Abdool Karim en die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, het by herhaling erken die voordele wat die inperking ingehou het, is reeds benut.

Die inperking kan ook nie uitgerek word in ʼn poging om ʼn moontlike piek van die virus se verspreiding op bepaalde plekke te voorkom nie. Dit sal wel plaasvind en met die wintermaande wat voorlê, kan ontsluiting nie langer uitgestel word nie. Die VF Plus besef dat die virus ʼn wesenlike lewensgevaar is, maar ʼn land se ekonomie wat tot stilstand kom, sal sonder enige twyfel ook tot groot lewensverlies, armoede en ellende ly.

Dit was altyd belangrik om ʼn sinvolle balans te vind tussen die verspreiding van die virus en die ontsluiting van die land se ekonomie. Om nog twee weke te wag om na Vlak Drie af te beweeg sal hierdie balans nou ernstig versteur.

Verdere inperkings sal meer skade aan die ekonomie en lewenssekerheid van gewone burgers aanrig as wat dit die verdere verspreiding van die virus sal beperk.

Dit het duidelik geraak die regering misbruik sy magte deur die Rampbestuurswet te gebruik eerder as die Noodtoestandwet aangesien die Noodtoestandwet slegs vir drie weke mag geld en alle regulasies ingevolge dié wet deur die parlement goedgekeur moet word wat oorsig en wesenlike samewerking met ander politieke partye behels.

Selfs die Verenigde Nasies (VN) se sekretaris-generaal, mnr. Antonio Guterres, het reeds aangedui dat Suid-Afrika een van die lande is wat die inperking misbruik om sy burgers se regte te vertrap.

Die VF Plus sal die hof vra om te beslis dat alle sake-ondernemings toegelaat moet word om te volle te open en handel te dryf met die nodige maatreëls in plek om die verspreiding van die virus te voorkom.

Die hof sal ook gevra word om die regering te versoek om redes te verskaf vir die streng regulasies en die redes om daarmee te volhard selfs nadat die regulasies reeds hul primêre doelwit bereik het.

Die regering moet ook die data bekend maak waarop die ramptoestand gegrond word en hoe beweegredes en tydlyne vir die vlakke van inperking daarvolgens bepaal word. Daar moet redes verskaf word waarom daar so lank gesloer word met die afkondiging van regulasies wat in talle gevalle gebrekkig en sonder enige tydskedule is.

Die VF Plus sal daarom op ‘n dringende basis die hof nader. Die magsmisbruik van die regering kan nie geduld word nie.