Meer werksgeleenthede sal slegs geskep kan word indien die ekonomie  groei. Om ‘n ekonomiese groeikoers wat welvaartsverbetering sal  verseker, te realiseer benodig Suid-Afrika ‘n dramatiese verhoging in  produktiwiteit. Die verhoging van produktiwiteit hang nou saam met  werketiek.

Die kern van die huidige krisisse wat die Vrystaat in die gesig staar  lê by gefaalde regeringsbeleid en ontoereikende werksetiek.
Anders as wat die agbare premier wil voorgee is ou toerusting nie te  blameer vir die totale in duie stort van die Vrystaatse  gesondheidssisteem nie. ‘n Tekort aan instandhouding as gevolg van ‘n  tekort aan bevoegdheid en werksetiek tot op die hoogste vlak, is te  blameer.
Hospitale en klinieke sonder water, sonder elektrisiteit, sonder  medikasie, sonder genoegsame personeel, is nie ‘n uitdaging nie – dit  is ‘n volskaalse krisis. Die agteruitgang van  gesondheidsorgfasiliteite is ‘n skande en is onaanvaarbaar.
Drome is nie wat nodig is om hierdie krisis aan te spreek nie.
Die munisipaliteite van die Vrystaat verkeer in chaos.  Plaaslike regerings faal die mense van die Vrystaat. Die finansiële  toestand van munisipaliteite is ‘n krisis met uitstaande debiteure en  krediteure wat hand uit ruk. Die huidige tendens van munisipaliteite  om tariewe en erfbelasting buitensporig te verhoog, gaan slegs hierdie  toestand vererger en die plaaslike ekonomie nog verder onderdruk plaas.
Daar sal dringend op plaaslike regeringsvlak ingegryp moet word om  swak dienslewering en finansiële wanbestuur hok te slaan.
Die VF Plus verwelkom die premier se aankondigings in verband  met infrastruktuurontwikkeling. Hierdie projekte en planne sal egter  slegs slaag indien bedrog en korrupsie met die toekenning van tenders,  effektief aangespreek word.
Daar is om elke hoek en draai – van staatsentiteite, munisipaliteite,  provinsiale departemente tot by die kantoor van die Premier –  bewerings en klagtes van korrupsie. Onder elke klip is daar ‘n  ondersoek en ‘n verslag. Talle ondersoeke deur die openbare beskermer.  Ondersoeke deur die nasionale tesourie. Dit is glad nie iets om op  trots te wees nie. Dit belemmer die vooruitgang van hierdie provinsie.  Dit belemmer dienslewering.
Wat ons benodig is ‘n hoë vlak forensiese en bedrog ondersoekeenheid.  Ons benodig absolute deursigtigheid en daadwerklike optrede na  aanleiding van afgehandelde ondersoeke en bevindings. Waar was die  optrede na afloop van nasionale tesourie se verslag oor die  provinsiale webtuiste wat meer as R40 miljoen gekos het?
Dit is nie ‘n prestasie om aan te kondig dat daar nou al 692  maatskappye van regeringsamptenare van die provinsiale  gesentraliseerde diensverskafferdatabasis verwyder is nie. Dit is ‘n  skande dat daar in die eerste plek soveel maatskappye was. Die klimaat  van selfverrykking, bedrog en korrupsie is vir te lank toegelaat.
Die agbare premier het die vryheidsmanifes aangehaal: “The people  shall share in the country’s wealth.” Indien daar nie verantwoordbare  regering intree nie, sal daar binnekort niks wees om te deel nie.  Indien omstrede projekte wat geld verkwis en korrupsie wat geld steel  nie dringend, daadwerklik hokgeslaan word nie, sal die sogenaamde  “wealth” nie meer daar wees nie. Indien bevoegde staatsamptenare nie  aangestel word en die nodige werketiek aan die dag gelê word nie, sal  geen van die premier se planne realiseer nie – dit sal slegs baie vae  drome bly.