Midde-in ʼn hofgeding rakende die aanbevelings van die Openbare Beskermer (OB) oor die SAUK se bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, sy kwalifikasies en vergoeding, is nog ʼn reuse verhoging en bonus aan Motsoeneng onverdedigbaar, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Luidens ʼn berig in News24 het dit nou uit die SAUK se jaarverslag aan die lig gekom dat Motsoeneng ʼn reuse salarisverhoging van R912 000 per jaar, asook ʼn bonus van R279 000 ontvang het. Sy salaris het verhoog van R2,872 miljoen tot R3,784 miljoen, ʼn verhoging van 31%.

Dit terwyl mense soos polisiemanne en verpleegsters in dieselfde tyd met ʼn salarisverhoging van 7% tevrede moes wees.

Dr. Mulder het gesê teen die agtergrond van Suid-Afrika se ekonomiese klimaat is daar reeds groot druk op die private sektor om die voorbeeld te stel wat salarisse en verhogings aan uitvoerende amptenare aanbetref.

Die voorbeeld wat die staatsuitsaaier nou stel met Motsoeneng se verhoging, dryf lynreg hierteen in.

“Met die moontlikheid dat hy dalk uit sy pos verwyder kan word, was hierdie dalk ʼn poging tot vinnige selfverryking. Die SAUK-raad sal in die parlementêre portefeuljekomitee oor kommunikasie moet verduidelik wat die motivering vir die verhoging en bonus was, en wie dit goedgekeur het.

“Die vraag is ook of werknemers op laer vlakke net so mildelik vergoed is, of was dit net die top-struktuur van die SAUK beskore?” vra dr. Mulder.