Dit bly ‘n kwaal van die ANC en die regering van Suid-Afrika om apartheid die skuld te gee vir alles wat in die land verkeerd gaan en om  in ontkenning te leef oor probleme wat daar wel is, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor Arbeid.

“Datsun wou in Suid-Afrika kom belê, maar toe gaan open hy ‘n fabriek in Indië. Dis nie apartheid se skuld nie, dis die ANC se skuld.

“BMW wou sy 4-reeks in Suid-Afrika uitbrei en sou dit hier vervaardig. Hy het dit nie gedoen nie weens die arbeidsonrus. Dis nie apartheid se skuld nie, dis die ANC se skuld.

“Nissan wou sy fabriek verbeter om hul produk plaaslik te vervaardig. Hy het egter na Nigerië gegaan weens plaaslike arbeidsonrus. Ook dit is nie apartheid se skuld nie, dis die ANC se skuld.

“Solank as wat die regering met Cosatu in die bed is, gaan u nie arbeidsprobleme in Suid-Afrika opgelos kry nie, want Cosatu is u vennoot.  Klim uit Cosatu se bed uit, u gaan siektes daar optel,” het dr. Groenewald gesê.

Hy sê om ekonomiese groei in Suid-Afrika te kry, moet die arbeidswetgewing ingrypend verander. Een daarvan sal ‘n verandering aan die Wet moet wees om ‘n geheime stemming onder lede te laat plaasvind oor of hulle ‘n loonaanbod aanvaar of nie.

Oor die geweld wat met stakings gepaard gaan sê dr. Groenewald daar moet wetgewing gestel word wat bepaal dat stakings wat met geweld gepaard gaan, as onwettig beskou word.  Sulke stappe sal arbeid in Suid-Afrika weer op die regte pad plaas, sê dr. Groenewald.