Die uitsluiting van agt Noord-Kaapse groepe van gesprekke met die regering oor tradisionele kommunale grond in Suid-Afrika het gister en vandag tot groot verwarring en ontevredenheid gelei en die staat moet nou sê of hy erns het oor die saak wat al dekades voortsleep, sê mnr. Clifton van Rheenen, leier van die Kommagas-groep.

ʼn Taakspan van 23 gemeenskappe wat aanspraak maak op kommunale grond, sou hierdie week met amptenare van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming beraadslaag, en die gemoedere het oorgekook toe die Noord-Kaapse groepe sonder enige kennisgewing van vervoer- en verblyfreëlings uitgesluit is en nie die vergadering kon bywoon nie.

Mnr. Van Rheenen sê daar is in die voorafgaande weke vergeefs probeer om die kwessie met ʼn amptenaar van die departement te bespreek om uit te vind waarom hulle uitgesluit is.

“Soos ons nou al deeglik besef, is dit feitlik ʼn onbegonne taak om iemand by die departement te kry om bloot ʼn oproep te beantwoord. Waarom ons nie genooi is nie, is daarom onduidelik. Ons weet nie of ons doelbewus uitgesluit is, en of amptenare in die Noord-Kaap bloot versuim het om die nodige reëlings vir ons besoek te tref nie.

“Wat ook al die rede, ons is nie daar nie. Die Wes-Kaap se groep het gister hewig beswaar aangeteken en het die vergadering geboikot om te wys dat daar geen sinvolle gesprek kan wees as alle groepe nie teenwoordig is nie.

“Vandag het hulle weer gesê hulle sal nie deelneem as ons nie daar is nie. Na langer as twintig jaar se tydmors is die tyd vir speletjies nou verby. Nou is ons in stryd met die regering. Wat nou by die vergadering gebeur, is ʼn vermorsing van tyd en belastinggeld.

“Die tyd het aangebreek dat iemand reguit sê dit is die staat se eie skuld deur onbevoegdheid en politieke onbereidwilligheid dat die totale proses van grondhervorming misluk.

“Dit is onaanvaarbaar en die minister van grondhervorming, Gugile Nkwinte, skuld nie net vir ons nie, maar vir die hele Suid-Afrika ʼn antwoord oor sy departement nie in staat is om behoorlik te funksioneer nie,” sê mnr. Van Rheenen.

Volgens mnr. Van Rheenen is die agtergrond rondom die aangeleentheid as volg:

Grond wat in sommige gevalle al langer as 150 jaar gelede aan sommige gemeenskappe gegee is, is steeds nie wettiglik in hul besit nie. Vandag is daar 23 van hierdie gemeenskappe wat insluit gemeenskappe soos Mier, Kommagas en Eksteenkuil.

Gemeenskappe kon kies om hulle grond na ‘n gemeenskaps-grondeienaarsvereniging te laat oorgaan of om by omringende munisipaliteite in te lyf.

Die stryd om hierdie grond aan die gemeenskappe oor te dra duur nou al twee dekades, en die departement van grondsake en landelike ontwikkeling is tans besig om skadebeheer toe te pas, na aanleiding van die onsuksesvolle TRANCRAA-wetgewing (Transformation of Certain Rural Areas Act) van 1998.

In voorafgaande gesprekke en ooreenkomste, het die meeste gemeenskappe vir eienaarsverenigings gekies, maar moes tot hul skok besef dat munisipaliteite beheer oor hulle dorpe geneem het. Slegs landbougrond is aan die verenigings oorgedra.

Bekende dorpe wat teen hulle sin beheer oor hulle gemeenskapslewe verloor het, sluit Genadendal, Zuurbraak, Elim en Komaggas in.

Die departement van grondsake en landelike ontwikkeling hanteer die dralende krisis deur middel van ‘n nasionale taakspan met verteenwoordigers uit elke gemeenskap, wat periodiek maar ongereeld vergader.

Vandeesweek se gesprek is deel van hierdie lang, uitgerekte en oënskynlik futiele proses.