Die Reserwebank is oorsensitief en het fouteer met die jongste rentekoersverhoging aangesien dit ekonomiese groei in Suid-Afrika net stadiger gaan maak,” sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.

Adv. Alberts sê die faktore wat gelei het tot die verhoging van 25 basispunte gister hou nie noodwendig verband met verbruikersgedrag nie, maar is faktore wat buite hul beheer is, soos die wankelende rand weens politieke onsekerheid, veral sedert Nenegate, die geweldige droogte wat die land getref het en die ongesonde toestand van die wêreld-ekonomie.

“Hierdie faktore is korrek deur die Reserwebank opgesom as geldig, maar ʼn rentekoersverhoging sal nou bloot meebring dat minder in die plaaslike ekonomie bestee word terwyl ons juis ʼn inspuiting deur groter besteding nodig het.

“Gegewe die land se chaotiese politieke omgewing is daar ook geen sekerheid dat ʼn rentekoersverhoging meer beleggings vanuit die buiteland sal lok nie. Die reserwebank moet eerder daarop fokus om die ekonomie vry te maak om te beweeg.

“Dit beteken skuld moet goedkoper wees en die verbruiker kan nie gestraf word vir faktore totaal buite hul beheer nie.

“Dit is nou tyd om waagmoedig te wees om Suid-Afrika los te breek uit sy ekonomiese binding en die reserwebank kan ʼn groot rol daarin speel deur ʼn boodskap aan die regerings te stuur om die arbeidsmark te dereguleer, beleid wat beleggers afskrik te verander, SEB te verander na ekonomiese bemagtiging vir armes in die algemeen en ras uit die ekonomie te haal en te vervang met meriete.

“ʼn Sinvolle omgewing moet dus vir buitelandse beleggers geskep word om Suid-Afrika ernstig te oorweeg as hul beleggingsbestemming” sê adv. Alberts.