Benewens ʼn versoek tot die Openbare Beskermer (OB) om die beweerde korrupte verhouding tussen Hitachi SA en die ANC te ondersoek (wat vandag reeds ingedien is), gaan die VF Plus ook vra dat die Japanse regering en die internasionale OECD-konvensie se oorsigliggaam dit ondersoek, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor openbare ondernemings.

Suid-Afrika is ʼn ondertekenaar van die OECD-konvensie wat hom daarop toespits om bedrog in internasionale saketransaksies deur buitelandse amptenare in ʼn land te beveg (OECD Convention on Combating Bribery of Foreign Public Officials in International Business Transactions).

Adv. Alberts sê die VF Plus sal die Japanse regering deur sy ambassadeur in Suid-Afrika versoek om in terme van die verpligtinge opgelê deur die OECD-Verdrag kriminele ondersoeke en vervolging te inisieer teen Hitachi en sy amptenare. Die VF Plus gaan ook versoek dat die Japanse regering die Suid-Afrikaanse regering verplig om in terme van die OECD-Verdrag insgelyks ʼn ondersoek en vervolging te loods teen die Suid-Afrikaanse betrokkenes.

Wat die klagte betref aan die Openbare Beskermer, het die VF Plus verder versoek dat die OB ʼn ondersoek instel na die moontlikheid dat Chancellor House hom skuldig gemaak het aan die nuwe misdryf van “fronting” vervat in die gewysigde Breë-gebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtigingswet.

Dit sal gedoen word teen die agtergrond van die verdoemende uitlatings van die Amerikaanse beleggingswaghond Securities and Exchange Commission (SEC) wat Chancellor House Holdings bestempel as ‘n “front” waardeur die ANC geld kon maak uit die kontrakte met die Japanse groep Hitachi in Suid-Afrika.

Die beweerde korrupsie in die vorm van “onbehoorlike betalings” het gespruit uit kontrakte wat die ANC se beleggingsarm Chancellor House ontvang het vir werk by die kragstasies Medupi en Kusile.

In nog ʼn verwikkeling het die VF Plus vasgestel dat die OECD einde verlede jaar ʼn uiters verdoemende verslag uitgereik het oor Suid-Afrika se onwilligheid om op te tree teen internasionale omkopery en korrupsie en die vinger word direk na die ANC-regering gewys.

Die titel van die verslag is: ‘Phase 3 Report on Implementing the OECD Anti-Bribery Convention in South-Africa’. Die sub-opskrif lui: ‘Lack of enforcement jeopardises South Africa’s fight against foreign bribery; OECD concerned that political an economic considerations may be an influence’.

Op bladsy 9 van die lywige verslag van 87 bladsye word onder meer gesê (onder die hofie ‘Bribery of Foreign Public Officials’):

‘Corruption remains a serious problem in South Africa. The country has experienced a number of high profile domestic corruption scandals, and corruption allegations have been linked to the highest levels in government.’

Ook: ‘Corruption in public procurement tenders has been a particularly serious problem…’. Dit noem voorts dat die hoof van die Spesiale Ondersoek-eenheid (SOE) reeds in 2011 aan die parlement verslag gedoen het oor die feit dat tussen R25- en R30 miljard – sowat 20% van die land se totale jaarlikse verkrygingsbegroting, weens ‘korrupsie, onbevoegdheid en nalatigheid’ verlore gegaan het.

Adv. Alberts sê dit is duidelik dat die wêreld se oë vinnig oopgaan oor die misdadigheid in die ANC-regering wat nou oral sigbaar word.