“Die kernprobleem op die oomblik in Suid-Afrika is dat die ANC-regering kiesers se stemme en populisme bo die herstel van die ekonomie verkies. Dit is uiters onverantwoordelik en kortsigtig,” het dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier tydens ʼn verkiesingsvergadering op Vaalwater in Limpopo gesê.

As jy deurlopend die sakesektor, mynbase en die landbouers blameer vir alles wat verkeerd is in Suid-Afrika, moet jy nie verbaas wees as al daardie sektore reageer met negatiewe groei nie. Mynbou het met 18% gekrimp en die landbou met 6,5%. Natuurlik speel kommoditeitspryse en die droogte ʼn rol. As jy egter hierdie sektore vergelyk met sektore in ander lande met soortgelyke probleme as Suid-Afrika, steek ons ver af.

Ten einde die EFF in die komende verkiesing te oorbie met stemme, maak president Zuma en die ANC-leiers deurlopend verwarrende en populistiese uitsprake oor grond en die landbou. Dit skep groot onsekerheid en maak dat geen landbouer bereid is om uit te brei of nuwe werkgeleenthede in die landbou te skep nie. Dan is die ANC verbaas as die landbou vir vyf agtereenvolgende kwartale krimp — die laaste kwartaal met 6,5%.

Die Nasionale Ontwikkelingsplan het landbou geïdentifiseer as een van die sektore waar baie werkgeleenthede geskep kan word om Suid-Afrika se werkloosheidsprobleme op te los. Om dit te kan bereik moet ANC-leiers, president Zuma ingesluit, ophou met populistiese uitsprake oor grond en die landbou ten einde sekerheid te bring. As hulle werklik ernstig is om die Suid-Afrikaanse ekonomie in die volgende ses maande van rommelstatus te red, kan dit nie besigheid en verkiesingspropaganda soos gewoonlik wees nie.