President Zuma se Nkandla-skikkingsvoorstel is soos altyd te min te laat. Dit gaan nie die Nkandla-probleme oplos nie. Daarom is die VF Plus ten gunste daarvan dat die hofsaak in die Grondwethof voortgaan. Dit is noodsaaklik dat die Grondwethof vir eens en vir altyd die magte van die Openbare Beskermer omskryf en bevestig. ʼn Skikking buite die hof gaan die onsekerheid oor die rol van die Openbare Beskermer laat voortduur.

Vir twee jaar het mnr. Zuma die Grondwet ondermyn deur die magte van die Openbare Beskermer te ontken en te ondergrawe. Dit terwyl die magte duidelik in artikels 181 en 182 van die Grondwet omskryf word.

Vir twee jaar het mnr. Zuma die parlement se tyd en geld gemors met allerlei kommissies van ondersoek in ʼn poging om geen verantwoordelikheid vir die Nkandla-gemors te aanvaar nie.

Die enigste rede vir die huidige skikkingsvoorstel van die president is die naderende hofsaak en nie ʼn skielike nuwe insig en aanvaarding van aanspreeklikheid nie. In Afrikaans is die gesegde: “ʼn Benoude kat maak benoude spronge”.

Grondwet artikel 181(4) lui: “Geen persoon of staatsorgaan mag op die funksionering van hierdie instellings (soos die Openbare Beskermer) inbreuk maak nie.” Mnr. Zuma het dit deurlopend gedoen.

Volgens artikel 182 het die Openbare Beskermer die bevoegdheid om na enige onbehoorlike stappe ondersoek te doen en “om gepaste regstellende stappe te doen” 182(1c). Die stappe wat die Openbare Beskermer vir die regstel van die probleme gedoen het, het mnr. Zuma nog deurlopend omseil.

Dit is belangrik dat die Grondwethofsaak voortgaan sodat ons oor hierdie sake duidelikheid kan kry. Dit is die enigste manier om ʼn herhaling van die afgelope aantal jare se Nkandla-gebeure in die toekoms te voorkom.

Daar is verder geen waarborg dat mnr. Zuma se skikkingsvoorstel gaan slaag om vir hom vrede en stilte te koop tydens die komende staatsrede in die parlement nie.