Meer mense het die afgelope vyf jaar weens steekwonde as skietwonde gesterf. Sedert 2010 tot vanjaar het 38 725 mense weens steekwonde en 25 869 mense weens skietwonde gesterf. Dit blyk uit ʼn antwoord van die minister van gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi, in die parlement op ‘n vraag van dr. Pieter Groenewald van die Vryheidsfront Plus. Die statistiek is gebaseer op die aantal lyke in staatslykhuise volgens die Forensiese Patologiese Dienste van die departement gesondheid.

“Pres. Jacob Zuma en die minister van Polisie, mnr. Nathi Nhleko, is altyd vinnig om te sê vuurwapens moet verminder word, aangesien dit die grootste oorsaak van geweldsmisdaad is. Hierdie statistiek bewys hulle verkeerd. Indien ‘n vergelyking met die moordsyfer van die Polisie getref word, en aanvaar word dat alle skietwonde ook moord was, wat nie so is nie, was skietwonde die afgelope drie finansiële jare verantwoordelik vir 35% (34,9; 35,1; 35,1) van die moordsyfer. Steekwonde in dieselfde tydperk was egter verantwoordelik vir 50,5% (59,8; 45,6; 46,2) van die moordsyfer. Hierdie statistiek is weereens ‘n bewys dat wettige vuurwapeneienaars onbillik en onnodig geteiken word asof die besit van vuurwapens die groot oorsaak van geweldsmisdaad in Suid-Afrika is,” sê dr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder van Polisie vir die Vryheidsfront Plus.

In die vyf jaar tydperk was die meeste messteke in die Oos-Kaap met 11 423 gevalle en die minste in die Noord-Kaap met 1 217 gevalle. In dieselfde tydperk was die meeste skietwonde in KwaZulu-Natal met 6 472 gevalle en die minste in die Noord-Kaap met 132 gevalle.