Terwyl die Ouditeur Generaal weer eens ‘n ‘skoon’ oudit aan Mogale City toegeken het, het die VF Plus ‘n klag teen die stadsraad by die Openbare Beskermer (OB) ingedien oor beweerde ongeruimdhede rondom die aankoop van ‘n plaas in Hekpoort, sê Amanda de Lange, raadslid van die Vryheidsfront Plus in Mogale City.

Sy sê die VF Plus is nie gekant teen die aankoop van die grond nie, maar wel oor die prosedure wat gevolg is en die prys wat eindelik vir die plaas betaal is.

Volgens De Lange het ‘n eiendomsagent jare gelede die plaas aan die munisipaliteit voorgestel vir die moontlike ontwikkeling van laekoste-behuising. Mogale City het die grond besigtig, maar nie gekoop nie.

“Groot was die verbasing toe daar in ‘n uitgawe van Landbouweekblad (21 Junie 2013) ‘n kennisgewing onder die afdeling ‘plaasverkope’ verskyn het waarin die betrokke plaas as verkoop gelys is.

“Die plaas is eers aan ene mnr. Tsangari vir ‘n bedrag van R6,669 miljoen verkoop en drie dae later aan Mogale City-munisipaliteit vir R18,5 miljoen.

“Ek en die voormalige Gautengse provinsiale leier van die VF Plus, mnr. Jaco Mulder, is al vanaf Julie 2013 in korrespondensie met Mogale City om ‘n verduideliking te eis. Ek het die kwessie op verskeie
raadsvergaderings geopper, maar kon geen antwoord of verduideliking kry van Mogale City se munisipale bestuurder, Dan Mashatisho nie,” sê raadslid De Lange.

Sy sê transaksies soos hierdie veroorsaak agterdog en die feit dat Mogale City se senior bestuur telkens versuim om verantwoording te doen oor onreëlmatige transaksie terwyl hulle self ‘n opsie gehad het om die eiendom vir sy oorspronklike markwaarde aan te koop, kan nie net daar gelaat word nie.

“Die feit dat Mogale City bykans drie keer meer vir die plaas betaal het as waarvoor hy dit kon kry, laat die wenkbroue lig. ‘n Mens wonder wat die betrokkenheid tussen die twee partye is.

“Dit is in die belang van die belastingbetalers van Mogale City dat ‘n klag by die Openbare Beskermer ingedien is vir ‘n volledige ondersoek na die transaksie. Die VF Plus sal hierdie ondersoek van die OB noukeurig dophou,” sê De Lange.