Met die verlammende poskantoorstaking nou reeds in sy vyfde week, is daar steeds geen einde in sig nie en luidens ʼn skrywe van een van die betrokke vakbonde blyk dit dat die kritieke punt reeds bereik is waar alle poskantoor-werksaamhede tot ʼn stilstand kan kom, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor kommunikasie.

In die skrywe van die South African Postal Allied Workers Union (SAPAWU), gedateer 10 Oktober 2014, word gesê dat die SA Poskantoor (Sapo) nog ‘niks’ op die tafel geplaas het in ʼn poging om ʼn skikking te bereik nie.

SAPAWU sê onder meer dat benewens die salarisverhogings en die vaste aanstelling van nie-permanente werkers, daar verskeie ander ‘eise’ is wat suksesvol opgelos moet word alvorens die vakbond bereid sal wees om te skik.

Ironies genoeg erken SAPAWU dat hy besef die poskantoor het nie die geld gehad om sy werkers verlede maand (op 25 September) betyds te betaal nie, en dat die maatskappy weens ʼn geldtekort en die gevolge van die staking kan sluit, maar steeds is hy nie bereid om vir ʼn verhoging van 8% te skik nie.

Die dokument lui onder meer (uit Engels vertaal): “Ons is bekommerd dat die impak van die staking die maatskappy sy deure kan laat sluit, as ons nie reeds die punt bereik het nie…”.

Ook: “Indien ons nie daarin slaag om oplossings te vind nie, sal 25 September ons op ʼn sinistere wyse daaraan herinner dat dit nie net toeval was dat ons nie betyds betaal is nie, dit was omdat die maatskappy nie geld gehad het om ons te betaal nie”.

Die dokument meld ook dat die aangeleentheid na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie verwys is waar die salarisdispuut op 23 Oktober (vandeesmaand) aangehoor sal word.

Adv. Alberts sê dit is jammer dat die ANC-regering die situasie toegelaat het om hierdie krisispunt te bereik waar selfs die stakende werkers en vakbonde begin bekommerd raak oor hul toekoms en die toekoms van hul werkgewer.

“Indien hierdie skrywe akkuraat is, wil dit voorkom asof die regering geen werklike erns het om die staking te beëindig nie. Die impak hiervan op die totale samelewing is enorm, maar sal van nou af eers behoorlik gesien word wanneer die gevolge van die gebreekte kommunikasiestelsel in die praktyk sy merk begin laat.

“Feitlik elke groot sakeonderneming het steeds nodig om in sekere gevalle met tasbare dokumente te kommunikeer. Regspraktisyns, eiendomsagente, studente, noem maar op. Die sneeubal-effek sal nou daagliks sigbaar groei en die VF Plus doen weer ʼn beroep op die regering om onmiddellik in te gryp,” sê adv. Alberts.