Die uitspraak van die hooggeregshof vanoggend oor die Al-Basjir-krisis verteenwoordig ʼn nuwe laagtepunt in die verhouding tussen die president as uitvoerende gesag en die howe as regsprekende gesag. Hierdie is die ernstigste van ʼn reeks opeenvolgende foute wat die ANC die afgelope tyd gemaak het en waardeur die Zuma-regering in ʼn steeds dieper moeras van onbekwaamheid insak.

Die Vryheidsfront Plus verwelkom regter-president Mlambo se uitspraak asook die wyse waarop die regter nie gehuiwer het om die uitvoerende gesag aan te spreek nie. Die regter se standpunt dat ʼn demokratiese staat nie kan bestaan of funksioneer as die regering hulle grondwetlike verpligtinge ignoreer nie, is ʼn ernstige teregwysing vir die regering.

Met die Nkandla-gebeure het die president en die uitvoerende gesag die parlement as wetgewende gesag grootliks geïgnoreer en probeer omseil.

Met die ignorering van die hooggeregshof se bevel dat Al-Basjir nie die land mag verlaat nie, het die president en die uitvoerende gesag die howe as die regsprekende gesag berekend geïgnoreer en omseil.

Hieruit is dit duidelik dat die president en die uitvoerende gesag buite beheer is deur te probeer om die parlement as wetgewende gesag en die howe as regsprekende gesag te ignoreer. Dit was daarom hoog tyd dat die president en die uitvoerende gesag ook deur die regsprekende gesag tot orde geroep word soos die regter in sy uitspraak doen.

As mnr. Omar Al-Basjir vanaf Waterkloof as ’n militêre sleutelpunt vertrek het sonder dat die regering dit geweet het, is dit totale onbevoegdheid van regeringskant.

Aan die ander kant: As die regering wel geweet het, getuig dit van ’n spesifieke besluit van die regering om ’n hofbevel te verontagsaam.

Albei moontlikhede laat SA in ’n gevaarlike grondwetlike plek. Daarom verwelkom die VF Plus die regter se opdrag dat die nasionale direkteur van openbare vervolgings die saak ondersoek en die skuldiges gestraf word. Die VF Plus sal sy bydrae maak deur alle verdere stappe te monitor en deur die parlement te sorg dat die proses deursigtig bly.