Vrouedag behoort die rol en stryd van alle vroue in Suid-Afrika se geskiedenis te vier en te gedenk, maar dit is duidelik dat die ANC dit sien as ʼn dag waarop hulde gebring word aan slegs die ANC se vroue en hul stryd, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Dr. Mulder het verwys na ʼn koerantberig (The Star, 10 Augustus 2015) waar geskryf word die ANC-vroueliga se adjunkpresident, Sisi Ntombela, het ʼn nasionale vrouedag-byeenkoms ‘suksesvol ’in ʼn ANC-byeenkoms verander en het onder meer gesing die Vrystaat is president Zuma se land en behoort aan hom.

Dr. Mulder het gesê die stryd van ander vroue in die land is ewe belangrik. Soos die stryd van slawevroue in die negentiende eeu en die van Afrikanervroue in die vorige eeu.

“My Mulder-ouma was in ʼn konsentrasiekamp en het slegs na die oorlog as die ‘Engelse Oorlog’ verwys. Volgens haar het die Britte dit veroorsaak as deel van kolonialisme en Britse imperialisme.

“Teen die einde van die oorlog in 1902 was daar 160 000 Afrikanervroue en –kinders en 130 000 swart mense in Britse konsentrasiekampe. Altesame 32 000 van die Afrikanermense is daar dood. Dit is tien keer meer as die aantal Afrikanermans wat op die slagveld gesneuwel het. Sowat 20 000 swart mense het ook in die kampe gesterf,” sê dr. Mulder.

Dr. Mulder het verwys na die boek; ‘The Brunt of War and where it Fell’, van die bekende Britse vrou Emily Hobhouse wat mense in konsentrasiekampte gehelp het, en in besonder waar sy die boek opdra
aan: ‘Die vroue van Suid-Afrika wie se uithouvermoë in lyding, berusting in vernedering, onafhanklikheid onder dwang, waardigheid in vernedering, verdraagsaamheid in pyn en stil aanvaarding van die dood’
haar met verwondering aangegryp het en simpatie oor die wêreld ontlok het.’

Volgens dr. Mulder het die ANC op Vrouedag die optog in 1956 na dieUniegebou herdenk en met reg aangesien dit ʼn belangrike gebeurtenis was.

“Daar was egter ander vroue-optogte ook na die Uniegebou. Op 4 Augustus 1915 het 6 000 vroue ʼn petisie namens 40 000 mense oorhandig vir die vrylating van genl. Christiaan de Wet en ander Afrikaner-leiers.

“Op Saterdag 22 Junie 1940 het 10 000 vroue daarheen marsjeer oor ʼn saak wat hulle na aan die hart gelê het. Dié dag sal daarom net tot sy reg kom as alle vroue en hul stryd en swaarkry tans en in die geskiedenis, herdenk word,” het dr. Mulder gesê.