Die Vryheidsfront Plus is oortuig daarvan dat Aarto in sy geheel geskrap moet word aangesien daar nou weer sterk getuienis na vore gekom het dat die stelsel algeheel disfunksioneel is in Pretoria, sê adv. Anton Alberts, VF Plus-leier in Gauteng, LP en burgemeesterskandidaat vir Pretoria.

Hy sê dit het onder die VF Plus se aandag gekom dat dit onmoontlik is vir padgebruikers aan wie Aarto-kennisgewings in Pretoria/Tshwane uitgereik het, om hul sake hof toe te verwys.

“Dit maak nie saak hoeveel keer padgebruikers probeer om verwysings na die hof te maak nie, die Tshwane metro-verkeersdepartement stuur eenvoudig geen dagvaardings uit nie. Dit beteken dat die sake net nooit afgehandel kan word nie.

“Die probleem ontstaan dan dat ‘n afdwingingsbevel steeds na 64 dae uitgereik word wat verhinder dat onder meer motor- en bestuurderslisensies uitgereik word sonder dat die padgebruiker hom na ‘n hof kan wend om die saak te besleg.

“‘n Verdere probleem is dat die Aarto-Wet streng voorskrifte het oor die tydperk waarbinne kennisgewings uitgereik moet word. ‘n Kennisgewing moet binne 40 dae uitgereik word nadat die beweerde oortreding plaasgevind het.

“Dit gebeur egter in baie gevalle nie. In ‘n geskrewe antwoord op ‘n parlementêre vraag het die minister van vervoer aan die VF Plus bevestig dat sodanige kennisgewings ongeldig is en dat padgebruikers vertoë aan die Padverkeers-oortredingsagentskap (RTIA) moet rig om die boetes te skrap.

“Die probleem is egter dat die RTIA weier om daardie boetes te skrap al is hulle ongeldig. Padgebruikers vind dit onmoontlik om die Aarto-instansies gebonde aan hul eie wetgewing te hou!

“Dit is weereens duidelik dat Aarto in sy toetsfase totaal disfunksioneel is en daarom kan dit nooit landwyd ingestel word nie. Die ANC kan bykans niks suksesvol skep en bestuur nie.

“Die VF Plus het vandag sonder sukses by ‘n woordvoerder van Aarto hieroor navraag gedoen,” sê adv. Alberts.