Omstandighede by kwarantyn-geriewe wat die minister van openbare werke en
infrastruktuur, Patricia de Lille, geoormerk het vir die Covid-19-pandemie,
sal drasties verbeter moet word.

Minister De Lille het reeds verlede maand tussen 37 tot 52 persele
geïdentifiseer wat insluit staatsgeboue, hotelle, vakansie-oorde en
hospitale. Dit is egter nog nie bekend waar al hierdie geriewe geleë is nie
en die probleem ontstaan nou dat dit wil voorkom of van hierdie plekke nog
nie gereed is om hul doel ten volle te dien nie.

Die VF Plus het sedert verlede Saterdag klagtes ontvang oor geriewe by die
D’Nyala-natuurreservaat in Lephalale, Limpopo, die Harry Surtie-hospitaal in
Upington, die Eiland-vakansieoord in Upington en gister by die MDR
TB-eenheid in Modimolle in Limpopo.

Klagtes het gewissel van water en kos wat nie beskikbaar was nie, tot plekke
wat vuil is en kos wat oneetbaar is. Die VF Plus het die klagtes deurgegee
aan die departement en die van ministerie van gesondheid en het goeie
terugvoer gekry. Daar is telkens vinnig opgetree om die probleme op te los.

Dit wil egter voorkom of die departement van openbare werke en
infrastruktuur nie genoeg aandag aan die geriewe geskenk het nadat dit
geoormerk is as kwarantyn-sentrums nie en nie die nodige inspeksies gaan
doen het om seker te maak dit voldoen aan die vereistes nie.

Die VF Plus spreek die hoop uit dat minister De Lille daadwerklike aandag
aan die probleem sal skenk en dat dit nie nodig sal wees om klagtes vanaf
pasiënte en die publiek daaroor te ontvang nie.

Aandag moet nou aan hierdie geriewe geskenk word sodat dit gereed is vir
indien daar ‘n skielike toeloop van pasiënte is.

Mediaverklaring uitgereik deur:

Philip van Staden

VF Plus-LP en hoofwoordvoerder: Openbare werke

8 April 2020