• Post category:All / Government

Uitlatings van Gauteng se LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, dat hy nie ekstra skole gaan bou nie en dat 40 kinders per klas geplaas moet word om die tekort aan skoolruimte op te los, is ʼn oortreding van sy wetlike verpligtinge, en die Ouditeur Generaal (OG), het die VF Plus aangeraai om klagte in dié verband aan die Openbare Beskermer (OB) voor te lê, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor basiese onderwys.

Die verwikkeling volg nadat die VF Plus in Oktober verlede jaar ʼn brief gerig het aan die Ouditeur-Generaal (OG) van Suid-Afrika waarin gevra word dat die aangeleentheid ondersoek word aangesien die wanbesteding van fondse ʼn oortreding is van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (Wet 1 van 1999).

Die provinsie se onderwysbegroting maak dit duidelik dat ʼn deel daarvan gebruik moet word vir die bou en uitbou van skole.

Dit was nadat Lesufi luidens mediaberigte onder meer gesê het daar is genoeg skole in Gauteng om alle leerlinge in die provinsie te huisves en dat bestaande skole veertig leerlinge per klas moet plaas om die probleem op te los.

Lesufi het glo gesê dit sal nie net die probleem van te min skole uit die weg ruim nie, maar sal ook sorg dat daar nie meer sogenaamde Afrikaanse- of Zoeloe- of Xhosa-skole is nie, maar slegs “African schools”.

In sy klag aan die OB skryf adv. Alberts dat Lesufi se uitlatings oor “African schools” sal neerkom op slegs Engelse skole aangesien Engels as verstektaal gebruik sal word wanneer verskillende taalgroepe in een klas saamgevoeg word.

Hy noem ook dat Lesufi se uitlatings en beleidsverandering politieke opportunisme is wat daarop gemik is om moedertaalonderrig uit te wis nieteenstaande die Grondwet se waarborge oor onderrig in enige van die amptelike tale, én nieteenstaande navorsing wat wys op die voordele van moedertaalonderrig.

“Die betrokke wet maak dit duidelik dat fondse slegs aangewend mag word vir waarvoor dit goedgekeur is, en indien Lesufi sy dreigemente uitvoer, sal dit duidelike ʼn skending van dié wet wees,” sê adv. Alberts.