Die minister van finansies se begroting kan as ʼn “terug na basiese ekonomiese grondwaarhede” beskryf word.

Die minister het fiskale dissipline beklemtoon met die voorneme om miljarde te bespaar deur beter beheer oor staatsaankope en deur besparing. Dit is stappe in die regte rigting.

Die maatreëls rondom staatsbeheerde entiteite word ook verwelkom as stappe in die regte rigting. Hoewel hy dit nie as privatisering wil beskryf nie, stel hy vennootskappe met die privaatsektor, rasionalisering en die uitfasering van sommige entiteite voor wat as besliste stappe in die rigting van privatisering gesien kan word.

Dieselfde ANC wat Suid-Afrika tot op die rand van rommelstatus gebring het deur verkeerde ekonomiese beleidsbesluite die afgelope paar jaar te neem, probeer nou die land uit die gemors kry deur basiese ekonomiese grondwaarhede te probeer toepas. Die vraag is of dit nie te min te laat is nie.

Hoewel die minister geld vir universiteite beskikbaar gestel het, het hy nie kans gesien om ingrypende droogtehulp aan te kondig nie. Daar was enkele vae beloftes dat dit nog aandag gaan geniet, maar dit gaan te laat wees om talle landbouers te red. As groot getalle landbouers weens die droogte van hulle grond af is, gaan dit dekades neem om voedselsekerheid weer te herstel.

Die VF Plus sou ʼn BTW-verhoging verkies het bo die talle kleiner verhogings oor die hele spektrum wat nou aangekondig is. ʼn BTW-verhoging sou die belastingbasis verbreed het. Suid-Afrika loop die risiko dat dieselfde vyf miljoen Suid-Afrikaners wat tans persoonlike belasting betaal, oorbelas word. Jy kan nie dieselfde belasting koei oor en oor vir belasting melk en dink dat sy nie gaan opdroog nie. ʼn Oorbelasting van hierdie individue mag ekonomiese groei demp en selfs bydra om ʼn moontlike resessie te versnel.