“Die aanval op die bekende ekonoom, Dawie Roodt en sy gesin, plaas huisroof in Suid-Afrika opnuut in die kollig. Roof by woonhuise, as die misdaad wat die meeste gevrees word in Suid-Afrika, het met 105% die afgelope tien jaar toegeneem. Van 9 391 gevalle in 2004/05 tot 19 284 in 2013/14 volgens die Polisie se misdaadstatistiek.

“Die korrektheid van dié statistiek word ook bevraagteken, aangesien polisiestasies nie die korrekte kategorie van misdaad rapporteer nie. ʼn Rooftog by ʼn woonhuis word soms as diefstal of blote inbraak gerapporteer.

“Die onbevoegdheid van die nasionale kommissaris van Polisie, genl. Riah Phiyega, die ineenstorting van misdaadintelligensie, die polemiek rondom die gewese hoof van die Valke, lt.genl. Anwa Dramat, korrupsie in die Polisie en politieke aanstellings en gedienstigheid is die redes hoekom misdaad in Suid-Afrika buite beheer raak.

“Daar is ʼn grondwetlike plig op die regering om te verseker dat die burgers van die land veilig is en hulle eiendom beskerm word. Die regering faal hierin en drastiese veranderings in die topbestuur van die Polisie sal vinnig gemaak moet word, anders gaan gemeenskappe meer en meer reg in eie hande neem”, sê dr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder van Polisie vir die Vryheidsfront Plus.

“Die Vryheidsfront Plus wens Dawie Roodt en sy gesin wat die trauma beleef, spoedige herstel toe. Daar word ook aan alle ander slagoffers van misdaad in Suid-Afrika gedink wat die hartseer, pyn en trauma van misdaad moet verwerk,” het Groenewald gesê.