• Post category:All

Die Vryheidsfront Plus het sy skok en misnoeë uitgespreek oor die tragiese en barbaarse moord op die bejaarde mnr. Janse van Vuuren. Die voorval het gisteraand om ongeveer 23:00 op die plaas Nuwejaarsbos gebeur. Die plaas is tussen Odendaalsrus en Kroonstad.

Vyf verdagtes het mnr. Janse van Vuuren oorval toe hy masjiene by sy melkstal gaan afskakel het. Hulle het sy vuurwapen van hom afgeneem en hom daarmee doodgeskiet. Hulle is na sy huis waar hulle sy 16-jarige kleindogter voor haar ma en sussie verkrag het. Die verdagtes het met mnr. Janse van Vuuren se bakkie, selfone, kontant en vuurwapens gevlug. Die bakkie is verlate langs die pad gevind en die verdagtes is nog op vrye voet.

Jan van Niekerk, provinsiale leier van die Vryheidsfront Plus in die Vrystaat, sê hierdie onsinnige moord kom in ʼn tydperk dat die hele land in rep en roer is na die moord op die kaptein van Bafana Bafana, Senzo Meyiwa. Hierdie moorde is weereens ʼn bewys dat kriminele geen respek vir die polisie en regering het nie. Die strawwe wat vir moordenaars opgelê word, dien hoegenaamd nie meer as afskrikmiddel nie en daarom doen die Vryheidsfront Plus opnuut ʼn ernstige beroep op die regering om die doodstraf terug te bring vir sulke sinnelose barbaarse moorde en verkragtings.

Van Niekerk sê dat hy van die regering verwag om hierdie onsinnige moord en verkragting ook so fel te kritiseer soos wat die geval was met die moord op Meyiwa. Daar word geëis dat daar ook ʼn beloning op die inhegtenisneming van hierdie moordenaars geplaas sal word. Die ANC-regering moet verantwoordelik gehou word vir hierdie moorde omdat hulle nie hul grondwetlike verantwoordelikhede nakom nie.

Die Vryheidsfront Plus wil hiermee hulle meegevoel betuig met die naasbestaandes van mnr. Janse van Vuuren en almal wat deur hierdie onsinnige optrede geraak word. Die vertroosting van ons Hemelse Vader
word hulle toegebid in hierdie moeilike omstandighede waarin hulle hul
bevind.